top of page

Die Here hou van ons

  • Stephan Joubert
  • Jul 25
  • 1 min read

Teks: Hebreërs 10:23


“Almal bly in huise van glas.” So lui die lirieke van ‘n liedjie, wat jy dalk ken. Dit is die reine waarheid! Nie een van ons leef op die morele hoëgrond nie. Iewers in die lewe druip ons almal ’n toets of twee. Ons integriteit laat ons soms in die steek. Ons struikel oor sondes. Ons maak droog, al wil ons nie. Ons praat oorhaastig in konfliksituasies en raak lelike dinge kwyt teenoor ander mense waaroor ons vir altyd spyt is. Daarom dat God se goedheid en genade my so altyd beïndruk, want Hy kom steeds oor die weg met mense soos ons.


Die Heer weet alles van ons elkeen af. Hy ken ons diepste en vlakste motiewe. Hy is die hoorder van elke woord, wat ons sê. Hy is die leser van elke gedagte, wat ons dink. Nogtans hou Hy baie van ons. Die Heer gee so baie vir ons om dat Hy altyd bereid is om van voor af te begin. Nee, dit beteken nie Hy keur ons droogmakery goed nie. Glad nie. God kan dit nie uitstaan nie. Maar Sy genade troef Sy ontsteltenis oor ons droogmakery elke keer. Strome van lewende water vloei voltyds in die rigting van al God se kinders. Oor en oor en weer en weer skenk die Here genade verniet en tot oorlopens toe aan ons. Die rede hiervoor het een naam: Jesus Christus! Hy staan die pad vol tussen ons eie glashuise en God. Jesus is hemelse genade in volkleur. 


Gebed: 

Hemelse Vader, U weet ek stel U teleur. Dankie dat U my in Christus se Naam elke keer terugvat. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page