Bewys eerste respek aan ander
- Stephan Joubert
- 1 day ago
- 1 min read
Daar word vertel dat toe Albert Einstein en Charlie Chaplin mekaar in 1931 ontmoet het, Einstein sou gesê het dat hy groot respek vir Chaplin het. “You do not say a word, and yet the world understands you.” Chaplin sou toe geantwoord het: "But your fame is even greater. The world admires you, when no one understands you.” Daarsy! Jy hoef nie alles te verstaan wat mense doen voordat jy respek vir hulle het nie.
Mense sê respek word verdien. Dalk is dit hoekom daar in Engels gepraat word van “earning respect” of “paying respect”. Om ander se respek te probeer verdien, kan blitsvinnig in ‘n selfgerigte affêre verander. Die regte roete is nie om respek te probeer verdien nie. Dis andersom. Die Bybelse pad is om heel eerste respek aan almal te bewys wat jou pad kruis, soos wat die Here van jou en my vra.
1 Petrus 2:17 leer ons om goed te doen aan ander, maar nie dat ons moet wag op hulle reaksie nie. Ons wag nie totdat hulle dankbaar is nie. Of totdat hulle ons respekteer nie. Ons doen goed vanuit die staanspoor. Ons kyk op na ander mense as ons vertrekpunt, soos wat Paulus ons in Filippense 2:3-4 leer om te doen. Leef altyd met respek, dan sal jy op spontane maniere guns vind in die oë van God en ander.




Comments