As God ’n een-lyner oor ons moet skryf
- Stephan Joubert
- 12 minutes ago
- 2 min read
Toe is die skrif teen die muur - letterlik en figuurlik. Ek praat van daardie dag toe God die of one liner oor koning Belsasar teen sy paleis se muur geskryf het terwyl hy en sy vriende partytjie gehou het. Ons lees in Daniël 5:25-28 hoe sy ganse lewe in ’n paar woorde saamgevat word: “Mene, mene, tekel, ufarsin.” Oftewel: “Getel, getel, geweeg, verdeel.”
Ek wonder wat sou God oor die meeste mense se lewe geskryf het as Hy hier en nou ’n een-lyner oor almal sou doen? Wat van jou en my? Watter sondes steek ons weg? Hoeveel skanse stel ons op sodat niemand naby ons ware self kan uitkom nie? Dalk is dit tyd vir ’n stukkie padlangse eerlikheid met onsself in God se teenwoordigheid. Dit is in elk geval ’n ewigheid beter om hier en nou voor God te kom staan as dat Hy dit eendag van Sy kant af moet inisieer. Vandag is steeds genadetyd. Vandag kan ons in Jesus se Naam tot Sy troon van genade nader.
Hoor en glo die woorde van Hebreërs 4:14-16:
14) Ons het nou ’n groot en magtige Hoëpriester. Hy is Jesus, die Seun van God. Daarom moet ons met alles in ons vashou aan dit wat ons oor Hom bely. 15) Hy is ’n hoëpriester wat vol simpatie is met ons as gevolg van ons swakhede. Hy is op presies dieselfde maniere versoek as onsself in alles. Maar Hy het nooit enige sonde gedoen nie. 16) Laat ons dan nou met groot vrymoedigheid naderkom na ons genadige God se troon toe. Daar sal ons ontferming ontvang. Daar sal ons genade raakloop. Daar sal ons op die regte tyd hulp kry. (NNT)




Comments