top of page

Jesus gee lyf aan vrede

  • Stephan Joubert
  • Apr 11, 2019
  • 1 min read

Jesus is die hemelse naam vir vrede. Sy vrede kry op ’n verrassende manier lyf in Betlehem en by Golgota. Die Kind van die hemel se aankoms tussen ons met ’n voerbak vir diere as sy eerste slaapplek; sy stil kinderjare in daardie agterlangse dele van Galilea, maar ook sy keuse op ’n onbenullige dorpie genaamd Kapernaum as hoofkwartier vir sy aardse sending - dit alles vertel nuwe vredestories. God se koninkryk raak van daar af grond. Van daar af forseer Jesus se vrede wanhoop uit die pad as Hy brood gee vir die skares wat soos skape sonder ’n herder ronddwaal. Sy vrede triomfeer van daar af wanneer boosheid uit sy pad skarrel, en wanneer gewone mense die hemel oop sien bokant hulle koppe. Die hemelse boodskap van vrede eggo oor die aarde vanaf die Kripkind van Betlehem tot by die Gekruisigde in Jerusalem aan ’n vloekhout. Die doodskaduwee van die kruis, maar ook die hoop van die leë graf, wys glashelder hoe God se vreemde vrede lyk. In lewe en dood- Jesus S’n- is daar vrede te vind. Jesus ruil vanaf Betlehem tot by Golgota plekke met ons. Hy gee Homself tot in die dood sodat ons kan leef - ook hier in Paastyd.


 
 
 

Comments


bottom of page