Nie geestelik afgedreigdes nie
- Stephan Joubert
- 2 hours ago
- 2 min read
Dis hoog tyd dat die kerk opstaan, hoor ek ‘n prediker oor die radio sê. Toe dink ek by myself dat darem ‘n hardnekkige idee is dat almal in die kerk gedurig moet opstaan. Of moet wakker word. Om een of ander rede glo sommiges almal in die kerk is altyd in ’n winterslaap vasgevang. Geen gelowige is ooit op die regte standaard in sulke dreigendes se nabyheid nie.
So baie kere in my eie lewe het ek al gehoor ek moet opstaan, uitstaan, myself regruk, en wat nog alles, dat ek later soos ‘n volskaalse mislukking in God se oë gevoel het. Skaars het ek oor een skuldgevoel gekom, of ’n volgende dreigement het my alweer ingewag. Toe het ek op ’n goeie dag besluit dit moet einde kry. Ek het regtig nie opgeteken om ‘n lewende dreigement te wees wat my geloof betref nie. Ek het ook nie gekies om ‘n onvervulde geestelike lewe te leef nie. Van toe af het ek 'n vaste besluit geneem om elke dag net te doen wat ek vir die Here moet doen. En om my lewe daagliks te leef tot Sy eer en tot voordeel van ander mense.
Nooit was dit die Here se bedoeling dat Sy voorskrifte slegs deur ‘n klein groepie hoogheilige mense uitgeleef kan word nie. Sy Woord is bedoel vir ál Sy kinders. 1 Johannes 5:3 sê padlangs vir ons almal dat as ons God liefhet, is sy gebooie glad nie moeilik om na te kom nie. Volgens Deuteronomium 30:14 moet ons net God se woord in ons gedagtes en in ons hart bêre - dan kan ons dit maklik uitvoer. Dan is ons nooit lewende dreigemente nie, of geestelikafgedreigdes nie.




Comments