
Die Juffrou vra vir die kinders om die geloofsbelydenis te lees deurdat elke kind een gedeelte lees. “Ek glo aan God die Vader ...” begin die eerste een. “Ek glo aan God die Seun ...” volg die tweede leerling ... en toe is daar ‘n lang stilte. Die juffrou kyk op om te sien wat aangaan ... toe een van die kinders antwoord: “Juffrou, die outjie wat in die Heilige Gees glo, is nie vandag hier nie.”
Die Drie-eenheid is ‘n begrip wat jy dalk al baie oor gedink het of wat jy eintlik goed verstaan. Hoe ook al, is dit belangrik dat jy weet dat toe jy Jesus as jou Verlosser aangeneem het, jy dadelik die Vader, die Seun en die Heilige Gees volledig ontvang het. God gee dus sy héle wese onmiddellik vir dié wat Hom aanneem.
Wat ‘n wonderlike gedagte dat God alles summier vir jou gee! Jy het die Vader wat jou soos ‘n Pa oppas, jy het die Seun wat jou as Verlosser 100% van jou sondes verlos en jy het die Heilige Gees wat soos ‘n Kameraad elke dag by jou is.
Gaan leef vandag as God-vervulde kind. ‘n Mens wat in oorwinning en vreugde kan leef omdat jy weet aan Wie jy behoort en Wie aan jou behoort!
Grote God, dankie vir die voorreg om u hele wese in my te hê.