top of page

Wat Tom Cruise ons kan leer van die evangelie

Roedolf Botha

Deesdae weet mens nie meer wat eg is in ‘n fliek en wat nie. Flieks is dikwels so vol CGI special effects, rekenaarskeppings, en tegnologiese wonders, dat mens met reg kan vra of regte akteurs en egte natuur-elemente nog nodig is om ‘n goeie rolprent mee te maak. Ek dink byvoorbeeld aan toe die aktrise, Carrie Fisher, wat die rol prinses Leia speel in die Star Wars reeks en wat onlangs oorlede is. Haar rol is eenvoudig oorgeneem deur ‘n digitale beeld wat van haar geskep is in die nuutste episode, The Last Jedi. Ook weet ons al lank reeds dat akteurs waaghalse gebruik om hulle plekke in te neem in tonele met gevaarlike aksie-tonele. In hierdie opsig is die nuutste Mission Impossible fliek, Fallout, nogal ‘n vars briesie van oorspronklikheid en egtheid. Tom Cruise, wat ook die vervaardiger is van die Mission Impossible reeks, het botweg geweier dat ‘n opgeleide waaghaals sy plek inneem in die aksietoertjies. Hy doen dit alles self. Selfs van die mees asemrowende toertjies van spring uit ‘n vliegtuig, tot spronge uit hoë geboue en nog meer. Ook is daar geen spesiale digitale effekte nie maar al die tonele is eg en werklik. Wanneer Cruise in onderhoude gevra is waarom hy dit so doen met al die risiko’s en moeite, is sy antwoord elke slag dieselfde: To keep it more real. Om dit so eg as moontlik te hou, beliggaam Cruise dus die rol van die karakter wat hy speel (Ethan Hunt) so volledig as moontlik. Hy skuif sy lyf saam met die karakter in die storie. Hy wil so na-aan Ethan Hunt leef as wat hy moontlik kan. Hy wil aan sy eie lyf voel wat Hunt voel; hy wil self moeg en uitgeput wees net soos die karakter sou wees na hy iemand ver gejaag het; hy wil self die berg sien wat die karakter sou sien en nie ‘n CGI namaaksel nie; hy wil self effens duiselig en bang voel wanneer hy op ‘n hoë gebou staan en afkyk voordat hy spring. Dit maak dat hy baie meer geloofwaardig kan saamleef met die karakter en dat die storie so effektief as moontlik aan kykers verkoop word. Ek dink dat beliggaming uiters belangrik raak wanneer Jesus vir ons sê: Volg My (Matt 9:9). Volg My beteken dat ons Jesus se lewe moet beliggaam, en nie net elke Sondag moet praat daaroor nie. Te veel kere is kerke en Christen huise plekke van praat, voorgee, van valse beelde, en die skep van “spesiale effekte” sodat ander tog net nie ons ware kleure en ons arm lewens kan sien nie. Net soos in ander Hollywood flieks, kan ons goed praat en mooi dinge sê maar sodra daar ‘n opoffering gemaak moet word dan kry ons eerder ‘n geestelike waaghals om dit te doen. Nee, ons moet ons lywe skuif, en ons hande vuilmaak net soos Jesus. Ons moet self inspring soos Tom Cruise en die moeilike werk self doen. Ons moet besig wees met die regte wêreld en dit mooi maak met hoe ons Jesus se lewe en boodskap beliggaam! Ons moet fisies aan mense raak soos Jesus, mense liefdevol in die oë kyk soos Hy, bemoedigende woorde uiter soos Hy. Ons kan ook nie net oor armes en lydendes praat nie. Ons moet ons lywe skuif na hulle toe. Net dan sal ons die liefde en empatie kan voel wat Jesus voel. Jesus het immers nie beveel dat ons mooi goed moet sê nie. Die Fariseërs het dit ook gedoen. Hy het gesê dat ons ons lyf agter Hom moet aanskuif. Hy’t gesê: Volg My!


bottom of page