• deur Stephan Joubert

1 en 2 Konings: Bloedspore, skandes… en die lewende God!


1 en 2 Konings wemel van intriges, tragedies, skandes en bloed. Maar tussendeur vleg die smal spoor van God se genadepad hier steeds onverpoosd voort. 1 Konings tel die drade op waar 2 Samuel opgehou het. Dit vertel die verhaal vanaf die tyd van Salomo se koningskap tot en met die wegvoering van die Judeërs na Babilon. In dié proses ontdek ons die vernietigende mag van sonde in die lewens van diegene wat hulle nie aan God steur nie. Maar ons sien ook dat God sy mense nie in die steek laat nie. Tussen al die bloedspore wat die geskiedenis bevlek, ontferm Hy Hom steeds oor dié wat aan Hom getrou bly.

Die Israeliete het die twee Samuelboeke en die twee Koningsboeke spoedig saamgegroepeer as een groot geskiedwerk. Dit het in Grieks bekend gestaan as Basileieai, oftewel “Koninkryke”. Toe die Griekse vertaling van die Ou Testament, bekend as die Septuaginta, kort voor die tyd van die Nuwe Testament gemaak is, is hierdie boeke wat ons vandag as 1 en 2 Konings ken, in twee afsonderlike geskrifte verdeel. Maar aanvanklik was 1 en 2 Konings deel van een groot boek.

Waar en wanneer?

1 en 2 Konings is in die tyd na die Babiloniese ballingskap (rondom 586 voor Christus) op skrif gestel. Ongelukkig weet ons nie presies wie die skrywer, of skrywers, was nie. Maar wat wel duidelik is, is dat hulle ‘n paar skriftelike bronne tot hulle beskikking gehad het wat as naslaanwerke oor die verskillende konings se lewens gedien het. In 1 Konings 14:29 word byvoorbeeld verwys na die “Annale van die Konings van Juda,” waarin die verhaal van koning Rehabeam voorkom. En in 1 Konings 15:31 is daar ‘n verwysing na ‘n geskrif bekend as die “Annale van die Konings van Israel.” Aan die hand van hierdie bronne wil die skrywer(s) vir die eerste lesers, wat die traumatiese tyd van die ballingskap oorleef het, verduidelik hoekom die Noordryk deur die Assiriërs oorgeneem is en hoekom Judeërs later na Babilon weggevoer is.

Hoekom?

Interessant genoeg, speel die verhale in die Koningsboeke oor ‘n hele paar eeue af. In 1 Konings lees ons van koning Salomo (1 Kon 1-11) wat koning geword het in die jaar 965 voor Christus. Verder maak ons ook kennis met die tragiese gebeure toe die eens magtige Israel in twee geskeur het in die tyd van Jerobeam en Rehabeam. Dit was rondom 925 vC (1 Kon 12-16). Daarna vertel die skrywer(s) die aangrypende verhaal van die groot profeet van die Noordryk, Elia (1 Kon 17-22). In sy tyd was die berugte koning Agab en sy Fenisiese vrou, Isebel, aan die stuur van sake in die noorde (873-851 vC).

Die tweede Koningsboek gaan volstoom voort met laaste stuiptrekkings van die verhaal van Elia (1:1-18), asook met dié van sy Geesvervulde opvolger, Elisa (2:1-8:15). Hierna word die optredes van verskillende konings van die twee ryke onder woorde gebring (8:16-17:41). Skrikwekkende dade van goddeloosheid, soos dié van koning Jehu (9:1-10:36) en Agas (16:1-20) word nou gekontrasteer met ‘n paar sprankies van hoop, soos die kort verhaal van koning Jerobeam II wat op God se pad bly stap het (14:23-29). Maar die geskiedenis van die Noordryk eindig in ‘n tragedie in die jaar 722 voor Christus wanneer die Assiriërs hulle hoofstad Samaria inneem en die Israeliete as slawe wegvoer (17:1-41).

Die laaste epog in die tweede Koningsboek is ‘n uitgebreide vertelling van die optrede van ‘n klompie konings van Juda (18:1-25:30). Na ‘n godsdienstige hoogtepunt met die optrede van die vroom koning Hiskia (18:1-20:21), regeer die goddelose koning Manasse vir ‘n volle 55 jaar. Sy afgodery en bloedvergieting (21:1-18), asook dié van sy seun Amon (21:19-26), word vir ‘n rukkie getemper deur die godsdienstige hervormings van Josia (22:1-23:30). Aan die hand van die wetboek van God wat in die jaar 622 vC in die tempel gevind word, bestry Josia die afgodery en sedeloosheid onder sy mense. Hy herstel ook die tempeldiens tot eer van God. Maar die laaste jare van Juda, na koning Josia se dood, (23:31-25:30) is ‘n baie donker tyd. Te midde van die ongehoorsaamheid van die Judeërs en hulle konings word Jerusalem in 586 deur die Babiloniërs verower. Die tempel word verwoes en baie inwoners word as ballinge of slawe weggevoer. Gelukkig eindig die boek tog met ‘n bietjie hoop as koning Jojagin van Juda se lewe gespaar word.

Wat wil God sê?

1 en 2 Konings wil vir die eerste lesers verduidelik hoekom ‘n eens magtige volk so ver kon val dat hulle op die ou end as ballinge in ‘n vreemde land opgeëindig het. Die geskiedenis wys dat hulle hierdie lot oor hulleself gebring het. Dis nie God wat sy volk in die steek gelaat het nie. Allermins. Hy het hulle keer op keer terug geroep na Hom toe. Maar hulle was doof en blind.

1 en 2 Konings is nie ‘n droë geskiedenisboek nie. Dis eerder ‘n lang preek in vertelvorm. Dit roep ons op om seker te maak dat ons God opreg dien. Dit sê vir ons elkeen wat hier in millennium drie leef dat ons nie dubbele burgerskap mag hê nie, soos baie van die mense wat ons in die Koningsboeke raakloop. God vra gehoorsaamheid en onverdeelde lojaliteit van ons almal wat in Hom glo. As ons leef soos ons wil, moet ons nie sy seën in ons lewe te wagte wees nie.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: