top of page

Vanaf verveeld tot verwonderd

Stephan Joubert

Photo by Eric Patnoudes on Unsplash

“Comfortably numb.” Hierdie was die titel van een rock-liedjie uit die vorige eeu wat my steeds bybly. Hierdie einste toestand tref baie van ons. Ons raak gerieflik afgestomp. Ons leef outomaties en onnadenkend. Die lewe slyp al ons skerpkante stomp. Ons raak gewoond aan alles en aan enigiets- misdaad, geweld, vermaak, sport, sonde, mekaar, die natuur… Die ergste van alles: ons raak gewoond aan heilige dinge! Ons luister leweloos na God se Woord en bid sonder entoesiasme. Niks hou ook meer ons aandag vir lank nie. Al ons verwondering is weg. Dit is hoekom Jesus gesê het dat as ons nie verander en weer kinders word nie, sal ons nooit in die koninkryk van God ingaan nie.

Kinderlike geloof, naïwiteit en verbeeldingrykheid is broodnodig vir ’n lewendige geloofslewe. Ons moet deur Jesus se oë leer kyk na die lewe en na ander mense. Dan sal die verwondering weer terugkeer. Dan sal ons tussen die lyne en agter die in eenvoud vreugde vind. Dan sal dade van omgee ons daaglikse roete word. Nie net die Here Self nie, maar ook ander mense sal dan weer groter as onsself raak sodat ons hulle sal eer en respekteer. Verveeldheid sal soos mis voor die son verdwyn en verwondering oor alles en almal sal ons lewe weer binnestroom. Hoe doen ons dit? Wel ons volg Paulus se voorskrif na in Filippense 2:3-4. Hier leer hy ons om niks uit selfsug of eie eer te doen nie. Hy leer ook dat ons uit eerbied vir Christus moet opkyk na mekaar. Doen dit en die lewe sal regtig anders wees en lyk voor sonsaktyd vanaand.


bottom of page