top of page

Pas die wêreld beter op vir God

Stephan Joubert

’n Oorsese studie van 2015 bevind dat 16% van alle sterftes regoor die aarde deur besoedeling van natuurlike bronne veroorsaak word. Lugbesoedeling en waterbesoedeling plaas die skepping onder groot druk. Kosproduksie ly hieronder. Natuurlike hulpbronne kwyn. Lugweg-infeksies, diarree en baie siektes floreer as gevolg van besoedeling. Hoekom moet ons as gelowiges ook hiervan kennis neem? Wel, omdat die wêreld deur God aan ons geleen is om namens Hom in stand te hou. Ons is aanspreeklik voor die Here as bestuurders van sy aardse huishouding, soos wat Hy ons in Genesis 1 en 2 leer. Ons moet besoedeling in ons omgewing help keer. Minder water moet in ons huishoudings gebruik en vermors word. Onnodige ritte met ons motors moet uitgeskakel word sodat daar nie nog koolstofdioksied in die lug losgelaat word nie. Ook moet ons vir mense rondom ons ’n voorbeeld wees van hoe om God se skepping mooi op te pas. Ons moet mini-projekte loods om die skepping skoon te hou, rommel op te tel en ons waterbronne skoon te hou. Ons moet vanjaar selfs ook ’n boom of twee plant. Ons moet die Here se wêreld regtig baie beter oppas as wat ons dit tot op hede gedoen het.


bottom of page