• deur Liezel Lüneburg

Coolste apie in die oerwoud


Onlangs het ʼn pragtige swart seuntjie geposeer vir ʼn Britse H&M-advertensieveldtog. Hy het ʼn top gedra waarop die woorde “coolest monkey in the jungle” pryk.

Die storm wat die advertensie veroorsaak het, is soortgelyk aan ʼn internet-tornado wat net nie end kry nie. Beskuldigings van rassisme vlieg oor en weer en Suid-Afrikaanse winkels word vernietig en geplunder. Een en elk lewer uit verskillende rigtings kommentaar: Die een groep is woedend omdat ʼn swart seuntjie met ʼn apie vergelyk word terwyl die ander groep nie kan verstaan waarom groep 1 dan nou so sensitief is nie.

(Die beskadiging van eiendom is laakbaar en word myns insiens vir politieke gewin aangemoedig. Ek kondoneer dit geensins nie.)

My eerste reaksie is om die tweede argument te ondersteun: Waaroor gaan die bohaai? Waarom is mense aan die Suidpunt van Afrika so sensitief oor iets skynbaar nietig wat in Europa gebeur het? Waarom moet alles in hierdie land aan velkleur gekoppel word? Mense is oorsensitief!

Die teenoorgestelde van “oorsensitief” is “gedesensitiseerd” of “ongevoelig”. Die twee woorde lê op uiterste punte van ʼn kontinuum en ek wonder oor die posisie van my sentiment op dieselfde kontinuum.

Is ek so gedesensitiseerd dat ek ander se reaksies as oorsensitief beskou? Het ek afgestomp geraak vir ander se pyn en lyding? Probeer ek nog om my ʼn wêreld in te dink waar historiese gebeure die hede en toekoms dikteer? Verstaan ek die woede en frustrasie of antwoord ek frustrasie met frustrasie?

ʼn Paar jare gelede het ek en Frans ʼn huweliksverrykingskursus bygewoon waar ons geleer het om huwelikskonflik op ʼn unieke manier op te los. Die gesprek verloop min of meer so:

“Ek hou nie daarvan as jy X doen nie.”

“Ek hoor jy sê jy hou nie daarvan as ek X doen nie. Het ek reg gehoor?”

“Ja.”

“Vertel my meer.”

“Ek hou nie daarvan as jy X doen nie want Y.”

“Ek hoor jy sê...”

Die res van die gesprek neem dieselfde formaat aan en verloop totdat die werklike rede agter die frustrasie oopgevlek word. Die gevolg is begrip en sensitiwiteit.

Dink jou ʼn land in waar mense, eerder as om ander se reaksies af te maak as oorsensitief, die rede agter die woede en frustrasie op hierdie manier probeer oopvlek en verstaan. Om begrip vir ʼn ander se situasie te ontdek, is tog ʼn bevrydende reaksie – vir beide partye.

Spreuke 15:1 is een van die mees geykte verse in die Bybel. Gelowiges haal dit graag aan, maar verstaan ons werklik die diep waarde van die wyse woorde?

“A gentle response defuses anger, but a sharp tongue kindles a temper-fire.” (The Message)

En dan vers 4: “Kind words heal and help; cutting words wound and maim.”

Kou in die volgende week aan hierdie wyse raad en dink jou ʼn Suid-Afrika in waar gelowiges dit elke oggend ter harte neem en deur die dag toepas.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: