top of page

Die vyand van groei!

  • Roedolf Botha
  • Oct 3, 2017
  • 3 min read

Hoe belangrik is dit vir jou om persoonlik te groei? Almal wil graag groei en ontwikkel. Ten minste, so sê almal. In die kerk-wêreld beweer Jesus-volgelinge gereeld dat hulle nader aan die Here wil groei. Ek hoor bykans weekliks in die besigheidsarena hoedat mense teenoor my erken dat hulle graag wil ontwikkel in hulle selfverstaan, vaardighede en verhoudingsintelligensie. Tog neem ek waar dat hierdie selfde mense (en ek self!) daagliks besluite neem wat geen groei bevorder nie.

Wat laat ons dan werklik groei en ontwikkel as mense? In antwoord hierop maak konsultant Bill Eckström die volgende opmerking wat my skoon duislig gelaat het:

“Comfort will ruin your life!”

Hierby bedoel hy dat geen mens wat gemak en veiligheid as einddoel nastreef sommer met rasse skrede sal vooruit leef in terme van persoonlike karakter en volwassenheid nie. Eckström verduidelik dat dit bepaalde kontekste is waarin ons ons bevind wat ons groei bevorder. Sommige kontekste laat jou groei en ander laat jou stagneer alhoewel dit jou veiliger laat voel. Ons bevind onsself gewoonlik in een van vier soorte kontekste met betrekking met ons eie groei.

Eerstens het ons die konteks van stagnasie. Hierdie is gewoonlik sosiaal toksiese omgewings wat uiter groei-onvriendelik is. Mense hier het so verstok geraak in sinnelose tradisies en politiek dat groei geensins meer ‘n moontlikheid is nie.

Die tweede konteks (en die teenpool van stagnasie) is chaos. Hierdie is gewoonlik so katastrofies dat mens hier ook nie maksimaal groei nie. Chaos is gewoonlik wanneer iets soos ‘n natuurlike tragedie tref soos ‘n orkaan wat mense dakloos laat, of ‘n oorlog waar mense hulle lewens verloor. Die kondisie is dood gewoon vernietigend en laat mense eerder getraumatiseerd as enige iets positiefs.

Die derde konteks is egter uiters interessant, naamlik orde. Hierdie kondisie is darem nie stagnant nie en dis ook nie so vernietigend soos chaos nie. Hierdie is ook die konteks wat meeste mense gewoonlik vir hulleself kies. Mense kies orde omdat dinge hier voorspelbaar is: As jy net die regte ding doen dan kan die uitkoms relatief veilig wees en jou toekoms kan redelik voorspelbaar wees. Eckström beweer egter dat ons hier ook nie groei juis omdat dinge hier te voorspelbaar is en ons eie karakter, denke en kreatiwiteit nie genoeg gestimuleer word nie.

Die vierde konteks is waar ons as mense die beste groei. Ons noem dit kompleksiteit. Laasgenoemde is wanneer jy in ongemak ingedompel word sodat jou brein hard moet werk en bogemiddelde innovasie aan die dag moet lê om weer by ‘n oplossing uit te kom. Dis hier waar die metaal van jou karakter werklik getoets word en waar jou waardes tel. Kompleksiteit kan plaasvind wanneer iemand byvoorbeeld sy/haar werk verloor, in ‘n konfrontasiesituasie beland of voor ‘n moeilike uitdaging te staan kom. Die belangrike om egter te verstaan van groeiende mense is dat hulle kompleksiteit vrywilliglik kies, aldus Eckström! Wanneer hulle voor ‘n keuse staan dan kies hulle moeilike opsie waar hulle karakter getoets kan word.

Kompleksiteit raak uiters interessant wanneer ‘n leser van die Bybel begin raaksien hoe Jesus sy dissipels laat groei het. Hy het hulle geleer deur hulle gedurig in kompleksiteit in te lei: ‘n storm op die see; ‘n skare van vyfduisend wat hulle moet voed; ‘n oproep om saam met Hom na die “ander kant” van die Jordaan te gaan waar die heidene en duiwels woon; ‘n oproep aan sy dissipels om te sterf en hulleself nederig neer te lê; ‘n bewusmaking dat hulle eie messias nie die verwagte koning gaan wees wat die vyand uit die pad vee nie maar dat Hy juis gaan sterf vir sy vyande om hulle sodoende sy vriende te maak! Hierdie is alles geweldige kopskuiwe wat die dissipels moes maak.

Jesus eis egter nie bloot kompleksiteit van sy volgelinge nie maar stel self ‘n skrikwekkende voorbeeld deur Homself in die chaos van die kruis in te dompel, net om lewend anderkant uit te kom en ons te maan om ook te sterf soos Hy, sodat ons werklik kan leef!

Hoe belangrik is dit vir jou om persoonlik te groei?


 
 
 

Comments


bottom of page