top of page

Hoe luister ek?

Elmarie van der Westhuizen

“The first duty of love is to listen.”

Paul Tillich

In die klein Franse dorpie, Taizé, is daar ‘n gemeenskap van Christen monnike wat bekend staan vir hulle vermoë om te luister. In hulle reëlboekie staan daar: “Die kuns om te luister het veelvuldige lae … luister na die persoon, nie net na wat hy sê nie, maar ook na wat hy is.” Hulle sien hulself as “a community with men determined to give their whole life and who would always try to understand one another and be reconciled, a community where kindness of heart and simplicity would be at the centre of everything.” Brother Roger: “God is love alone”

’n Mens kom van tyd tot tyd in ’n situasie waar jy duidelik daarvan bewus is dat die ander persoon net besig is om oor jou linkerskouer te kyk of daar nie dalk iets interessanter is as om na jou te luister nie, of waar die persoon net wag dat jy asemhaal sodat hy kan inspring met sy eie storie! Jy stap dan omgekrap daar weg omdat jy geïgnoreer voel.

Luister as ‘n konsep klink so eenvoudig – ons doen dit tog aldag en heeldag. Maar doen ons dit regtig? As ek nie werklik luister nie, kan ek (gáán ek) mense seermaak en hulle waardeloos en gefrustreerd agterlaat. En Jesus het juis geleer dat ons aan ander moet doen wat ons aan onsself sou wou gedoen hê.

Ons voel geliefd, verlig, gewaardeer, rustiger en gelukkiger wanneer daar na ons as mens geluister word – bevry en sterker. Daarom speel luister so ‘n waardevolle rol in menseverhoudings en kan dit baie heling bring wanneer jy jou inskerp om dit reg te doen.

‘n Baie effektiewe manier om Jesus se liefde aan ‘n ander te bewys, is om

behoorlik na die ander een te luister. Om effektief en gedissiplineerd te luister, om soos Jesus regtig om te gee. Om dit te doen beteken om na die hele persoon te luister – met jou hele self. As ek net op myself en my behoeftes fokus, kan ek nie hoor wat die ander een sê nie, kan ek nie verstaan wat in sy/haar hart omgaan nie.

Daarom is dit belangrik om elke dag in te gaan met hierdie gebed: “Here, U luister na my wanneer ek by U kom kla oor my teleurstellings, wanneer ek vir U van my vreugdes kom vertel. Vervul my so met u Heilige Gees dat ek vandag met u ore en u hart na die mense wat oor my pad kom, kan luister.” Slegs dan kan ek ander begelei deur hul ervaringe, verhale, hul vreugdes en hul seerkry.

“Deep listening is miraculous for both listener and speaker. When someone receives us with open-hearted, non-judging, intensely interested listening, our spirits expand.

Sue Patton


bottom of page