Woorde bou op of vernietig
- Alet Gardner
- Aug 6
- 3 min read
Terwyl ek luister na die mondelinge verslag van die spraakterapeut, wat my broer moet help om na ‘n beroerte weer sinvol te kan praat, besef ek opnuut hoe kosbaar my brein en die gawe van gedagtes en spraak, van woorde is. En dat dit juis hierdie gawe is wat ek so maklik wanbestuur! In die eerste instansie laat ek toe dat verkeerde en negatiewe gedagtes nes in my brein skrop. Dit is juis hierdie negatiewe gedagtes wat, wanneer dit toegelaat word om te broei en groei, om “kleintjies te kry”, oorborrel in ‘n katterige, neerhalende opmerking of, erger nog, ontplof in ‘n tirade.
Spreuke 4:23 waarsku ons: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” As ek toelaat dat negatiewe, ontstelde, haatdraende woorde in my brein (my “hart”) rondmaal, gáán dit ontplof. Gáán dit seermaak, mag dit dalk ‘n lewenslange letsel in iemand nalaat en beslis nie die Here se Naam verheerlik nie.
Hy wil dat ek net sal praat wat goed en opbouend is sodat my hoorder daarby kan baat. (Efesiërs 4:30) Dat ek versigtig met afbrekende woorde sal wees, selfs as ek dit as ‘n “grap” bedoel. As my woorde seermaak, wanneer dit in woede oorkook, venynig en geniepsig is, is dit nie goed en opbouend vir my hoorder nie. Dit is waarskynlik woorde waaroor ek my gaan skaam, wanneer die Here dit hoor, woorde wat ‘n lewenslange letsel in iemand se lewe kan laat.
Wanneer ek aan die ontvangkant van kwetsende woorde is, is dit raadsaam om hierdie skynbare onreg, hierdie waarskynlike belediging, eers in die Here se teenwoordigheid te ondersoek. Louis Kroon, psigiater en kosbare kind van die Here, het ons geleer om eers vir onsself te sê: “Stop. Dink. Wat is die waarheid?” Dit is wys om, voordat ek reageer, eers my wegholreaksie te stop en te besin oor wat die waarheid is, m.a.w. hoe God dit sien.
Die negatiewe woorde, skelwoorde, wat die seerste maak, is veral dié wat van gesagsfigure in my lewe of ‘n goeie vriend kom. ‘n Ouer of onderwyser wat moontlik in ‘n oomblik van frustrasie vir my toesnou dat ek nikswerd is en nêrens gaan kom nie.
As ek hierdie woorde gaan meet aan die maatstaf van die Bybel, sal ek sien hoe die Here my sien as kosbaar en waardevol (Jesaja 43:4), hoe Hy ‘n goeie plan vir my lewe het (Jeremia 29:11). God die Vader het immers Sy Seun as losprys, as ‘n offer, gegee sodat ek mag lewe, sodat ek ‘n oorvloedige lewe mag hê (Johannes 3:16, 10:10). Hy het my fyn aanmekaargeweef in die moederskoot, my geken voordat ek gebore is (Jeremia 1:5). Hy ken elke selletjie in my liggaam (Psalm 139:15). Hy weet van elke daad, elke gedagte (Psalm 139:4) – niks is vir Hom weggesteek nie. Hy weet wat die waarheid is, of die kritiek of skelwoorde geregverdig is. En as dit wel so is, is Hy genadig en barmhartig om te vergewe en my op ‘n nuwe pad te lei. Hy wil my ook vergewe en my help om te verander waar ek dalk op die verkeerde pad is (Psalm 139:24). Hy sal ook ‘n pad van genesing met my stap (Psalm 147:3), my leer hoe om die persoon, wat my so seergemaak het, te vergewe (Efesiërs 4:32).




Comments