Wees weerstandig. Wees veerkragtig!
- Stephan Joubert
- 3 days ago
- 1 min read
Oor die afgelope jare het ’n nuwe term gewild geraak. Ek praat van die Engelse woord “resilience.” In Afrikaans word dit gewoonlik met veerkragtigheid vertaal. Ekself sou dit ook met weerstandigheid wou vertaal. In elk geval, “resilience” dui onder andere op die vermoë van indiwidue om hulleself te midde van veranderinge en chaos te handhaaf. Die bekende skrywer, Nasim Nicholas Taleb, praat egter van ’n ander term. Hy praat van anti-fragile of anti-breekbaarheid. Dit gebeur wanneer ons sterker in onsself groei te midde van teenstand en onsekerheid.
Ons is nie so breekbaar hier in 2026 soos wat ons dalk dink nie. Ons geloof in die Here maak ons weerstandig. Wag, dit maak ons selfs anti-breekbaar. Moeilikheid, teenstand en beproewing haal ons nie so maklik uit soos wat ons dalk dink nie. Al voel ons soms swak, is ons nie uitgelewer aan ons swakheid nie. Ons volhard, want ons krag kom in hierdie jaar van die Here af. Sy kosbare skat is in ons verpak soos wat Paulus in 2 Korintiërs 4 skryf. Ons is breekbare kleipotte in wie die kosbare skatte van die Here ook aanwesig is. Ons weet ons is meer as ons foute en breekbaarheid. Ons weet ons is sterker as ons struikelinge. Ons is die Here s’n. Ons is wandelende tempels van die Allerhoogste hier in 2026.




Comments