Wees op die regte Plek
- Stephan Joubert
- Aug 27, 2020
- 1 min read

“Location, location, location!”
So sê eiendomsagente graag. Die regte adres is alles. Dit geld ook vir navolgers van die Here. Met name is die regte adres vir ons almal die Here se wingerd. In Lukas 13:6-9 vertel Jesus van hierdie wingerd waarvan Sy Vader die Eienaar is. Hyself is hier voltyds aan die werk as Tuinier. Hier sorg Jesus vir vrugte in oorvloed. Hier versorg Hy ook daardie een vyeboom wat nutteloos en sonder vrugte in die wingerd rondstaan. Jesus plaas sy eie reputasie op die spel deur al die werk in die wingerd te doen sodat hierdie boompie kan vrugte dra.
Ek het ’n vermoede ek en jy is dalk hierdie vrugtelose vrugteboom wat net spasie opvat in die Here se wingerd. Maar ek weet iets aardskuddend - ek weet die hemelse Tuinier gee nie op met jou en my nie. Hy het ’n seisoen van grasie vir ons bewerkstellig, ’n seisoen van hemelse bemesting. Daarom vertoef ons in sy wingerd. Ons kyk elke dag waar die Here is, dan sorg ons dat ons daar is. Daar is die wingerd. Daar reën dit seën. Daar neem die regte vrug vorm aan. Wees saam met my daar.
Comments