top of page

Wees ook lief vir jouself

  • Stephan Joubert
  • 2 days ago
  • 1 min read

Teks: Matteus 22:40


Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. So leer Jesus ons in Matteus 22. Ja, jy moet die Here jou God heel eerste liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. Maar dan voeg Jesus by dat die tweede gebod wat hieraan gelykstaan, is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Jy kan nie ander mense liefhê as jy nie jouself ook liefhet nie. Jy moet in vrede en harmonie met jouself leef. Jy moet jouself op die regte maniere aanvaar en respekteer. Doen dit as volg:


  • Wees elke dag dankbaar dat jy net jy is. Jy is nie ‘n fotostaat van enigiemand anders nie. God het jou op ‘n uitsonderlike manier aanmekaar geweef, soos wat Psalm 139 leer. Boonop het Hy ‘n paar talente en gawes op unieke maniere in jou lewe verpak. Gebruik dit tot Sy eer en tot voordeel van ander.

  • Pas jouself goed op. Leef gesond. Oefen gereeld. Eet reg. Slaap genoeg. Rus baie. Lees aanhoudend. Wees kreatief.

  • Doen meer van daardie dinge wat vreugde bring in jou eie lewe en in die lewens van ander. Vermy dinge wat jou siel en liggaam skade aandoen. Moenie uitspattig leef nie. Moenie eksperimenteer met twyfelagtige dinge nie. 

  • Versorg jouself goed. Gooi gereeld reukolie oor jouself, soos wat Prediker 9 sê. Leef stylvol. Leef altyd respekvol teenoor God, ander mense en jouself.


Gebed: Dankie, Hemelse Heer, dat ek ek is. Dankie dat U my uniek gemaak het. Ek dien U met alles in my.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page