Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?
- Elmarie van der Westhuizen
- 2 days ago
- 2 min read
In Markus 10 lees ons hoe Jesus vir die Paasfees op pad na Jerusalem is. Naby Jerigo gaan die skare by ‘n blinde bedelaar, Bartimeus, verby. Toe dié hoor dat Jesus in die skare is, roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, het U nie asseblief ‘n bietjie jammerte vir my oor nie?” (47b DB)
Jesus roep hom nader en Bartimeus gooi sy baadjie eenkant toe, spring op en kom na Jesus toe. “Wat wil jy hê moet ek doen?” (51 DB|) is Jesus se vraag. “Ek wil asseblief graag sien, Meneer,” kom die antwoord. “Jy kan maar gaan,” sê Jesus vir hom. “Omdat jy op My vertrou het, is jy nou gesond. (52 DB)
Jesus se vrae is eenvoudig en Hy reageer met medelye. God weet alreeds wat ek nodig het nog, voordat ek hom vra. Maar hy wil nog steeds hê ek moet vra – dit wys my afhanklikheid van en vertroue in Hom.
“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Jesus ook vroeër vir sy twee dissipels, Johannes en Jakobus, gevra. (Matteüs 20:36 AFR83) Hulle versoek is egter vir mag en aansien in Sy koninkryk. In beide hierdie gevalle reageer Jesus simpatiek, maar Hy staan nie die twee dissipels se selfsugtige versoek toe nie.
Bartimeus se hele lewe is verander deur hierdie ontmoeting met Jesus. Hy was nou nie net meer ‘n arme bedelaar, sonder enige betekenisvolle verhoudings in sy lewe nie. Hy vra om te kan sien en ontvang veel meer as dit. Sy geestelike oë gaan oop en hy sien die lewende Jesus. Hy los sy ou bo-kleed, soos sy ou lewe, daar langs die pad en word ‘n volgeling, vol lofprysing, van Jesus.
Bartimeus het geweet met wie hy te doen het en daarom het hy nie opgehou om uit te roep nie: “Jesus, Seun van Dawid, het U nie asseblief ’n bietjie jammerte vir my oor nie?”(47 DB) Hy het geweet en was vol vertroue dat Jesus hom kon genees. Soos vir Bartimeus, nooi Jesus my ook om my diepste behoeftes en begeertes in totale afhanklikheid en vertroue na Hom te bring.
Wat gaan ék antwoord, wanneer Jesus vir my vra: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?”
Gaan ek Jesus vertrou, glo dat Hy soos met Bartimeus, my situasie en omstandighede en dalk my lewe kan omdop? Gaan ek my situasie eerlik voor Hom bring, my diepste behoeftes aan Hom erken, Hom toelaat om my selfgesentreerdheid en selfsugtigheid te verander?
Wat ook al ek vra, as ek Hom vertrou om sy beste vir my te gee, sal dit lewensveranderend wees tot Sy eer – ongeag of sy antwoord “Ja” of “Nee” was.
“When Jesus asks what we want Him to do for us, He’d like us to recognize both the depth of our need and the extent of His glory.” (Intouch Ministries)
Comments