Wat om te doen met jou vrees
- Roedolf Botha
- 3 days ago
- 3 min read
Die Bybel sê dat ons nie in vrees moet lewe nie. Vrees kan ‘n mens verlam. Vrees het die vermoë om elke stukkie potensiaal in ‘n mens te laat kwyn en verdwyn. Teveel vrees maak jou nie veilig nie - dit maak jou minder. As Jesus gevrees het, sou Hy nooit by die kruis uitgekom het nie en ons sou nog almal in ons sonde vasgevang wees.
‘n Baie praktiese illustrasie uit ons kultuur is die eerste fliek in Christopher Nolan se Dark Knight-trilogie, Batman Begins. Hierdie unieke fliek oor die ontstaanverhaal van Bruce Wayne as die bekende Batman-superheld, begin met ‘n vreesbevange jong Bruce Wayne, wat as tienjarige seuntjie in ‘n ou, droë waterput geval het, waar ‘n hele swerm vlermuise hom so toegetakel het dat hy vir jare daarna in vrees vir hulle gelewe het. Jaar na jaar het hy nagmerries oor hierdie unieke gevleuelde kreatuurtjies gekry. Sy vrees vir hulle het sy hele lewe as jong seun oorheers.
‘n Hele paar jaar later sien ons egter ‘n brawe superheld wat geweldige risiko’s neem en homself in gevaarlike situasies dompel om mense te help. Ons sien hoe hy nie meer deur sy vrees beheer word nie. Trouens, nou neem hy elke dag brawe besluite om ‘n beter mens te word en te groei in die oorwinning oor sy vrees vir gevaar, asook sy vrees vir magtige kriminele figure in die onderwêreld van Gotham City. Wat het gebeur in die tydperk tussen die vreesbevange jong seun en hierdie manhaftige superheld? Het hy maar net grootgeword en sy vrees ontgroei?
Nee, dit het meer as dit behels.
Hy het sy vrees vir vlermuise direk met dapper aksies gekonfronteer.
In die eerste plek het hy as ouer persoon na daardie grusame grot teruggegaan waar hy die vlermuise vir eerste keer teëgekom het. Hy het tot diep binne-in geklim en die vlermuise gaan soek tot hy hulle weer gevind het. Toe hulle vir die tweede keer rondom hom fladder en swerm, het hy eenvoudig tussen hulle gaan staan en daar gebly totdat hy so gewoond aan hulle was dat hy sy vrees begin oorkom het.
Tweedens het hy ‘n vlermuis, die simbool van sy vrees, as kenteken op die bors van sy Batman-uitrusting laat aanbring. Sy vrees en swakheid het die simbool van sy dapperheid en heldhaftigheid geword. Die vlermuis op sy bors het hom elke dag daaraan herinner dat hy meer is as sy vrees en dat hy elke dag sy vrees beter kan leer beheer deur dapper dinge te doen, ten spyte van sy vrees.
Ons sien alreeds hierdie waarheid in die evangelie en hoe Jesus sy benoudheid hanteer het. In Matteus 26:2 sê Matteus dat Jesus geweet het dat die tyd van Sy kruisiging naby was. In vers 38 sê Hy vir Sy dissipels:
“Ek voel doodsbenoud.”
Daar sou tereg gesê kon word dat Jesus die kruis gevrees het. Dit was egter geen ongelowige vrees nie, maar ‘n menslike emosie. Jesus het nie toegelaat dat Sy vrees Hom verlam nie. Sy geloof in Sy Vader was groter as Sy besorgdheid oor die kruis. Ten spyte van Sy benoudheid het Hy nie vir die kruis teruggedeins nie, maar Homself vrywilliglik oorgegee en die kruis doelbewus en vol geloof tegemoet gegaan.
En vandag? Vandag plaas ons kruise in ons kerke en in ons huise as die simbool van Jesus se geloof en liefde vir ons.
Dit herinner ons ook dat ons nie hoef te vrees nie. Die rede vir ons benoudhede kan die simbool van ons oorwinning in Jesus word, wanneer ons ons vrese konfronteer met geloofsvertroue in ons Vader en met dade van liefdevolle, opofferende dapperheid.
Hoe nodig is dapper geloofshelde nodig vandag in Suid-Afrika nie!




Comments