Warrelwind
- Siegfried Louw
- Sep 30
- 3 min read
ʼn Paar maande gelede het my vriendelike bure in die middel van die nag aan my slaapkamervenster kom klop. Natuurlik het ek nogal geskrik, want ʼn mens word gewoonlik nie in die middel van die nag wakker gemaak sonder goeie rede nie.
My een garagedeur was wawyd oop. Ons weet steeds nie lekker hoe dit gebeur het nie. Dit was wel ʼn stormagtige en winderige nag, so die hele garage was vol blare, stof en ander vullis. ʼn Deur, wat veronderstel is om toe te wees, kan nogal baie onnodige gemors in jou huis veroorsaak.
Die afgelope ruk gewaar ek al hoe meer ʼn ander soort deur wat mense graag oopmaak en ooplos: Aggressiewe opinies, gegrond op onvoldoende informasie. Dink maar aan die persoon wat in sy dorpsgebied en op sosiale media geviktimiseer is. Mense het hom getakel, omdat hy dieselfde name gehad het as iemand anders wat slegte goed elders in die land aangevang het. Persone wat gewalg is deur die oorspronklike oortreder se dade, het sy naam op sosiale media gaan intik, resultate gekry en begin optree. Die verkeerde mens het sleg deurgeloop.
Hierdie patroon kom daagliks op globale skaal voor. Ek raai dat mense eenvoudig moeg vir misdaad is en iets daaraan probeer doen. Nóg ʼn faset om in gedagte te hou, is die manier hoe sosiale media ons laat optree en ons breine inoefen.
Sosiale media wil nie noodwendig korrek met plasings wees nie. Hulle wil net eerste met plasings wees.
Woede versprei vinniger as nuanse. Hoe meer uitgesproke mense raak, hoe meer versprei dit.
Rekenaarprogramme ontdek watter plasings by jou reaksie ontlok. So jy kry meer dáárvan en jy raak al hoe meer opgewerk en uitgelok om te reageer.
Dis baie makliker om in die veiligheid van jou huis met ʼn rekenaarsleutelbord jou sinne uit te skiet as om iemand in die oë te kyk.
Die ekonomie van aandag: Ekstreme stellings kry die “likes”.
Ongelukkig is hierdie gewoontes soos ʼn huisdeur wat wawyd oopstaan terwyl daar ʼn storm woed. Eugene Peterson se weergawe van Matteus 7:1-5 kom in my gedagtes op wanneer ek mense se pynverhale oor hulle ervarings op sosiale media hoor. Ek gee ʼn vry parafrasering van Peterson se weergawe, maar jy is welkom om ander Bybelvertalings nader te trek:
“Moenie ander mense so afknou wanneer jy al hulle foute kritiseer nie. Behalwe natuurlik as jy graag dieselfde behandel wil word. ʼn Kritiese gees loop gewoonlik self ook deur. Dis maklik om ʼn vuil merk op iemand anders se gesig uit te wys, terwyl jy nie eers besef hoe besmeer jou eie gesig is nie. Sal jy nou sowaar sê: “Kom ek was bietjie jou gesig!” terwyl gʼn mens jou eie vuil gesig kan herken nie? So probeer jy vir ander te probeer wys hoe goed jy dink jy is en hoe sleg jy reken ander is. Vee bietjie jou eie gesig skoon, sodat daardie neersien-eienskappe nie meer daar sit nie.”
Hier is drie eenvoudige dinge wat jy kan doen om te verhoed dat jy onnodige warrelwinde moet hanteer of versprei:
Oefen jou empatie. Skuif jou fokus van “ek is besig om te wen” na “ek is besig om beter te verstaan”.
Oefen maniere om die “pause”-knoppie te druk. Is dit ʼn boodskap of reaksie wat jy onmiddellik moet stuur of deel? Sal een uur se wag saak maak?
Herinner jouself aan jou identiteit. Wie is jy in Christus?
Comments