Wanneer is ’n voorbeeld ’n voorbeeld?
- Stephan Joubert
- 13 hours ago
- 1 min read
’n Ruk gelede hoor ek op die radio hoe die aanbieders gesels oor iemand wat vir hulle ’n voorbeeld is. Die persoon wat ter sprake was, het haar maandelikse salaris aan haar gemeenskap afgestaan. Toe dink ek dit is nie heeltemal korrek dat sy die omroepers se voorbeeld is nie. Dan sou hulle tog iets soortgelyk as sy gedoen het. Nie een van die aanbieders het egter aangedui hulle enige pogings gaan aanwend om ander mense se nood te verlig nie.
Mense sê maklik iemand is vir hulle ’n voorbeeld, sonder om te doen wat daardie voorbeeldige mense doen. Dit gebeur gereeld met Jesus. Mense sê Hy is hulle Verlosser. Mooi so! Hulle sê ook Jesus is hulle inspirasie en hulle voorbeeld. Ewe mooi! Maar hulle doen nie wat Hy doen nie. Hulle leef nie sy voorbeeld agterna nie. Hulle harte breek nie gedurig oor armes nie. Hulle leef nie saam met stukkendes nie. Hulle eet nie saam met sondaars en ontferm hulle oor randfigure, soos wat Jesus hier op aarde gedoen het nie.
Sulke mense is eintlik net Jesus se bewonderaars, maar nie Sy navolgers nie.
Bewonderaars klap graag hande vir hulle helde, maar as dinge te moeilik vir hulleself raak, laat hulle hul helde in die steek. Jesus vra egter baie meer as dit. Hy is op soek na navolgers wat in Sy voetspore volg, nie na bewonderaars wat slegs mooi belydenisse oor Hom lewer nie. Hy soek mense wat Sy voorbeeld in woord en daad uitleef. Kom ons doen dit. Kom ons volg Jesus na as ons Heer en ons Voorbeeld.




Comments