Wag nog 60 sekondes, dan hoor jy die reine waarheid
- Stephan Joubert
- 20 hours ago
- 2 min read
Teks: 2 Korintiërs 6:10
As jy vir mense vra hoe dit met hulle gaan, hoor jy die meeste van die tyd iets soos: “Dit gaan goed, dankie!” Wag egter vir nog so 60 sekondes, dan hoor jy hoe dit regtig met hulle gaan. Na die eerste sarsie “goed dankies” kom die volle waarheid gewoonlik uit. Na 60 sekondes gaan dit gewoonlik nie so goed soos wat hulle heel eerste vir jou gesê het nie. Dan hoor jy hulle is kwaad, beswaard, bang, bekommerd, of sommer net gewoon omgekrap.
Dalk is dit nie net “hulle” wat so ’n 60-sekondegrens handhaaf voordat die eintlike waarheid uitkom oor hoe dit regtig met “hulle” gaan nie. Dalk geld dit vir onsself ook. Ons almal voel soms ons is slagoffers van die lewe. Om egter in sulke slagofferlaagtes uit te kamp, trek ons net dieper in ’n dodelike leefpatroon in. Dan moet ons gedurig met die res kompeteer vir die Slagoffer-van-die-weektrofee! Dan moet ons ook galbitter voel, dink en praat! Paulus wys vir my ’n beter roete. Hy leer my in 2 Korintiërs 6 dat die Here my geroep het om ’n hoopverspreider te wees. Hy vertel pertinent hier hoe hyself dikwels vervolg, beledig en vertrap is. Nogtans het hy nooit sy hoop in Christus verloor nie. Trouens, Paulus vertel dat hoewel hyself brandarm was, hy gedurig ander mense in die Here ryk gemaak het. Hy het van sy eie omstandighede vergeet en ander in Christus se Naam geseën. Daarom het dit na sestig sekondes altyd goed met Paulus gegaan. Volg sy voorbeeld.
Gebed: Heer, ek wil hê dit moet heeltyd goed gaan in my lewe. Ek wil dit laat goed gaan volgens U terme. Leer my deur U Woord hoe om dit te doen.




Comments