Vroeg herfs
- Siegfried Louw
- 2 days ago
- 2 min read
Vir diegene wat in die noorde van die land bly, raak dit dáárdie tyd van die jaar: kosmos langs die pad. Gedurende die middel van die somer let ek nie juis hierdie betrokke plante op nie. Hulle lyk te veel soos kakiebos of gras, maar slegs totdat hulle meteens begin blom!
Hier in die Kaap, tussen die klippe van die klam klowe, word oplettende stappers soms verras met ʼn disa wat blom. Húlle voel ook na ʼn tipe wonderwerk, want hoe kan hierdie plante gedurende die intense somerhitte só groei dat hulle meteens met diepskarlaken en kersiepienk kan verras? Na die winter word die wingerde meteens in heldergroen fluweelweelde omskep, wanneer die nuwe blare uit die donkerbruin stokke swel.
Die geheim van die plante? Wag. Hulle weet hoe om te wag.
Ek self is ongeduldig en soek graag onmiddellike resultate. Maar die plante weet wat om te doen wanneer daar oënskynlik niks gebeur nie. Hulle gaan rustig voort om hulle wortels tydsaam af te laat sak. Sommer so ongesiens sluip die floreertyd nader.
Lydenstyd trek my menswees ook ʼn bietjie in hierdie rigting. Die afwagting na Paasfees nooi my om op te let in Wie ek gewortel en gegrondves is. “As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug. Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou.” (Johannes 12:24-25)
ʼn Saadjie wat met ʼn bietjie klammigheid in die son bak, swel uit en breek oop. Dit is ongemaklik. Tydens die ongemak, doen die plantjie net een ding: hy skiet wortel.
Miskien is jy ook al moeg gewag. Moeg vir die situasie by die werk, of by die huis. Of jy het ʼn persoonlike uitdaging waarvoor daar nog nie uitkoms in sig is nie. Dalk is daar dringende en belangrike sake wat jy net nie verander kry nie, ongeag hoe hard jy probeer. Indien dit so is, is dit die een plek waar jy na binne kan oplet: Waaruit groei ek? Na Wie hunker ek? Hoe doen ek dit? Hou aan daarmee.
Wie weet - dalk op ʼn dag word jy verras met ʼn laning vol kleur.




Comments