Vooroordeel maak seer
- Elmarie van der Westhuizen
- Sep 3
- 2 min read
The Pharisee in me
One day I found within my heart
Someone who’d been there from the start,
A prudish person, self-appointed,
Self-sufficient, self-anointed.
Though I, a true disciple be,
I’ve met the Pharisee in me!”
Uittreksel uit Jil Briscoe se “The Pharisee in me”
Dit is so maklik om ander onbewustelik te veroordeel - sy het nie haar hare gekam nie, hy het te veel tatoeëermerke, daar is ‘n gat in haar kouse en hy is lui. Ek kan myself maklik verontskuldig deur te dink ek is nie hieraan skuldig nie, maar ek betrap my dat ek mense, wat ander waardes of ander gewoontes as ek het, oordeel. Dan reageer ek, sonder dat ek daarvan bewus is, net soos die Fariseër wat neersien op die tollenaar in Lukas 18:19. Die menslike verstand het 'n natuurlike neiging om te kritiseer, maar niks word deur kritiek bereik nie.
In Matteus 15 het die Fariseërs Jesus en Sy dissipels veroordeel, omdat hulle nie die gebruike en gewoontes van daardie tyd nagekom het nie. Ons kan maklik in dieselfde slaggat trap om mense te veroordeel, omdat hulle nie dieselfde gewoontes, gebruike of kleredrag as ons het nie. Ons maak ons maatstawwe die norm wat aanvaarbaar is en meet ander daarvolgens. Ek dink my manier van doen is die beste.
Vooroordeel kom in alle groottes en vorme voor. So is daar in die laat 1922’s vroue en meisies wat in Ierland buite-egtelik swanger geraak het, weggestuur na die Rooms-Katolieke Magdelene-werkhuise. Daar is hulle gedwing om wasgoed te was en onder haglike omstandighede, vir ‘n dak oor hulle kop te werk. Hulle families het hulle op straat uitgegooi, want buite-egtelike swangerskap was in daardie tyd ‘n groot skande.
In plaas daarvan dat hierdie mense met liefde, vergifnis en medelye omarm is, sodat hulle weer op hulle voete kon kom, het dit nie gebeur nie. Hierdie veroordeling deur hul families en die samelewing het letsels gelaat wat generasies geneem het om te genees.
Jesus het mense, wat gestruikel en geval het sonder veroordeling en met medelye behandel, al was hulle duidelik verkeerd. Ons kan hierdie selfde medelye bewys aangesien ons Sy volgelinge is.
Wanneer ek my dag begin deur in gebed stil te word, gee ek vir Christus geleentheid om my te herinner aan die genade, wat ek onverdiend ontvang het – dat alles wat ek het, ek van Hom ontvang het. Daar leer ek om ander lief te hê soos Hy my liefhet, en om ander te sien soos wat Hy hulle sien, om die balk in my oog uit te haal.
Daar besef ek dat genade sagmoedig is, nederig, vol begrip en ontferming en dat die Gees van Christus my in staat stel om genade aan die mense wat anders as ek is, te betoon.
“If you judge people, you have no time to love them.” - Mother Teresa
Comments