Vanaf God-verlate tot God-gevind
- Stephan Joubert
- Apr 21
- 1 min read
“My God, my God, hoekom het U my verlaat?”
Hierdie woorde uit Psalm 22 weerklink op Jesus se lippe, terwyl Hy aan die kruis hang. Hy is alleen. Hy dra die sondes en oortredings van dermiljoene mense op Sy skouers. Hy, wat geen sonde gedoen het nie, word nou soos ‘n sondaar behandel. Hy dra nou die vloek, wat op elkeen rus wat nie God se wet gehoorsaam nie. Jesus se kruislas is ondraaglik, selfs nog meer as Hy beleef Hy is Godverlate.
Genadiglik wag daar ook goeie nuus vir Jesus aan die kruis. Hy ken immers die laaste woorde van Psalm 22. Hy weet dat God Sy mense nooit finaal prysgee nie. Daarom duur Jesus se eie Godverlatenheid aan die kruis nie enduit nie. In Johannes 19:30 roep Jesus juis in Sy sterwensoomblikke uit: “Dit is afgehandel!” “Mission accomplished!”
“In U hande gee ek my gees oor,” is die laaste woorde op Jesus se lippe, wanneer Hy sterf, soos wat Lukas 23:46 skryf. Die kruis hou Jesus nie permanent in die land van Godverlatenheid gestrand nie. Sy laaste kruiswoorde is Sy oorwinningskreet, Sy “victory chant.” Nie God-verlate nie, maar God-gevind! Presies só sterf Jesus. In die dood gee Jesus Homself oor aan Sy Vader. Die dood het nooit die laaste sê nie. So vertel Vrydag se kaal kruis en Opstanding Sondag se leë graf vir ons. Die kruis is regtig ons enigste hoop!
Comments