top of page

Van EK tot ek

  • Stephan Joubert
  • 2 hours ago
  • 1 min read

As daar een ding is wat sosiale media baie goed reggekry het, dan is dit om “EK” in die sentrum van die aandag te plaas en om “hulle” te meet aan hoe hulle teenoor MY (EK) optree. Gee “hulle” om wanneer EK in ’n krisis is? Bid “hulle” vir MY (EK)? Gee “hulle” om as EK alleen is? Inderdaad het EK die selfaangestelde standaard geword, waaraan ander se liefde en vriendskap gemeet word. Sosiale media en kie maak EK die spilpunt van dit alles. EK, MYSELF en EKKE staan in die sentrum.


Voordat jy verkeerd verstaan - natuurlik maak die regte ek ook saak, daardie ek met kleinletters. Jesus leer ons juis in Matteus 22 dat hierdie regte ek ander mense moet liefhê soos wat ek myself liefhet. Maar hierdie ware ek is nooit selfsugtig nie. Hierdie ware ek, wat leef volgens God se woord, weet immers dat elke ander ek in die lewe ewe veel vir God tel. Daarom leer die ware ek gedurig om hulle mooi raak te sien en om hulle opreg te dien. Daarom dra die ware ek ander mense graag op die hande. Daarom doen die ware ek eerste vir hulle wat ek graag wil hê hulle ook vir my moet doen, soos wat ons in Matteus 7 leer. Hoe meer die ware ek na God en na ander mense toe leef, hoe meer vergeetagtig raak ek wat my selfgesentreerde gevoelens betref. Groei asseblief weg van EK na ek, soos wat God vra.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page