Uitstel en afstel
- Stephan Joubert
- 17 minutes ago
- 1 min read
Teks: Psalm 103:3
God is baie veiliger as almal, wat Hom hier op aarde verteenwoordig. Gelowiges is nie so genadig soos die Here nie. Selfs Dawid het op ’n dag, toe hy oortree het, gekies om eerder in die hande van God te val, as in die hande van mense. Die rede? Dawid het geweet hy kon meer genade by God te wagte wees as by mense. Hy het geweet God hou nie vir altyd boek van die kwaad nie. Hy is vergeetagtig as dit kom by die onthou van oortredings wat met berou voor Hom neergesit is. So leer Psalm 103 ons.
Die Here deel aanhoudend nuwe kanse aan ons uit. Nog meer, Hyself skep al hierdie kanse, soos wat Jesus ons leer in die gelykenis van die onvrugbare vyeboom in Lukas 13:6-9. Dit beteken Jesus bewerkstellig graag ’n seisoen van uitstel in God se wingerd vir elke vrugtelose vyeboom. Natuurlik reik Hy nooit lisensies uit om in die onde en in gemors rond te lê nie. Inteendeel, Jesus spit gedurig die grond in ons harde harte om. Hyself werk goeie geestelike bemesting in ons lewens in. Hy sit aanhoudend Sy eie reputasie op die spel deur vrugte te waarborg op Sy werk in die hemelse Eienaar se wingerd. Daarom kan ons altyd nuwe genade in Christus se omgewing te wagte wees. Daarom kan ons weet die Here sal ons nooit afskryf as ons eie swakhede en struikelinge ons die pad laat byster raak nie.
Gebed:
Jesus, U is die rede dat ons lewe! Ek sing vandag ‘n loflied oor U genade.
Comments