Stel jou dagboek en jou horlosie betyds reg in 2026
- Stephan Joubert
- 1 day ago
- 1 min read
In Jonathan Swift se verhaal, Gulliver’s Travels, vertel hy hoe Gulliver in ’n dorpie genaamd Lilliput aankom waar klein mensies woon. Iewers bespreek hulle Gulliver se sakhorlosie. Hulle ken nie so iets nie. Swift beskryf hulle waarneming as volg: “They identified it immediately as the god he worshipped. After all, he seldom did anything without consulting it: he called it his oracle and said it pointed out the time for every action in his life.”
Hierdie woorde van Lilliput se inwoners is vandag steeds waar. Te veel mense se dagboeke, selfone en horlosies oorheers hulle lewe. Vroegjaar is hulle reeds verstrengeld in eindelose beplanningsessies en skedules wat die res van 2026 in harde sement gaan giet. Moenie dat dit jou vanjaar oorkom nie.
Jakobus 4:13-15 waarsku teen ’n oorbeplande, selfversekerde lewenshouding: “Luister, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan. Daar sal ons ’n jaar bly, besigheid doen en geld maak.’ Julle weet nie eers wat môre oor julle lewenspad gaan bring nie. Julle lewe is soos ’n rokie wat opstyg. Vir ’n oomblik is dit hier en dan is dit weg. Wat julle eerder moet sê, is dit: ‘As die Here dit wil, sal ons aangaan met ons lewe en dit of dat doen.’”
Sit jou selfoon na-ure af. Ignoreer jou dagboek oor naweke. Kyk jou horlosie mis wanneer jy prima-tyd deurbring met jou geliefdes. Laat toe dat jy aanhoudend deur God verras word. Sorg dat Sy nuutste koersaanduiders jou eie beplanning gereeld onderbreek. Laat die Here jou in 2026 van enige verslawing aan jou dagboek, jou selfoon en jou horlosie bevry.




Comments