Spanning en stresvolle dae
- Marietjie Joubert
- Oct 14
- 2 min read
Lees Kolossense 3:11-12
Soms voel dit of die pakkie wat ons dra al hoe groter word. Vandag het baie min mammas die voorreg om tuis te bly en hul babas te versorg of die kinders groot te maak. Pappas werk laat en mis baie van die kinders se grootword. Daar is net soveel druk op almal. Soms verwag werkgewers van werknemers dat hulle al hoe later moet werk, want ‘n projek moet klaargemaak word. Hierdie swaar werkslading veroorsaak dikwels spanning by die werk én tuis!
Spanning het ‘n negatiewe effek op jou gesondheid en werksverrigting. Jou brein gaan oor in oorlewingsmodus. Jy raak ongeduldig en minder effektief. Ons breine werk op hul heel beste as ons meer ontspanne is.
Ons lees in Kolossense 3:11-12 dat God vir ons in alle omstandighede die krag gee om te volhard. Ons kan nie in stresvolle tye, wanneer ons uitermatig besig is, vergeet om met die Here te praat nie. Hy is by jou. Dit is Hy wat jou deur hierdie tye , tuis en by die werk dra en die vermoë gee hard te werk.
In hierdie twee verse van Kolossense 3:12-13 kom daar twee sinonieme voor, naamlik geduldig en verdraagsaam. God verwag van ons om in alle omstandighede geduld te beoefen. Of jy nou die skoolhoof, bestuurder van ‘n maatskappy, verkeersbeampte, ‘n pappa of mamma is, wees geduldig. Ja, sal jy dalk sê, jy ken nie my baas of man, of omstandighede nie. Dis maklik vir jou om te praat!
Ervaring het my al geleer dat wanneer ‘n mens so besig is, ‘n mens se kragprop nie goed kontak maak nie. Dalk is dit sommer heeltemal uitgetrek. Skakel jou hemelse kragprop aan en luister met gebed en smeking na die stem van die Here. Jou krag kom van die Here alleen. Wanneer ‘n mens hierdie stresvolle tye moet oorleef, is een ding vas en seker: daar is net Een ware kragbron. Maak tyd, al is jy hoe besig, om met die Here te praat en in Sy Woord te lees. Moenie probleme self wil hanteer nie - skakel elke dag in by God.
Die hemelse kragbron gee elke dag genoeg krag as ons daarby ingeskakel is. Maak tyd vir die Here al is jy hoe besig! Om die Here in jou kamp te hê is ‘n ongelooflike voordeel. In die hemel is geen kragonderbrekings nie- daar is net gebedebakke vol genade, wysheid en vrede. Jou rekening se balans is ook altyd op nul. Wees bedag daarop dat jy nooit daardie kragbron afskakel nie.




Comments