• Siegfried Louw

Plastieksak


Plastieksak

Angstig vee sy die dokument met ʼn lappie af. Die lappie is deurdrenk met ontsmettingsmiddel. Die dokument is netjies toegedraai in plastiek en kleeflint.

“Al die reëlings is daarbinne, sê sy.” Ek loer deur die tralies, deeglik daarvan bewus dat ons ten minste twee meter van mekaar af beter bly. Ek haal stadig deur my masker asem. Met een oogopslag sien ek dat die teks, liedere en ander informasie netjies in drukskrif neergepen is. Die hele begrafnis is uitgewerk. “Dankie, Tannie,” probeer ek die gesprek afsluit. Maar sy laat sak net haar kop en loer grootoog bo-oor die te groot masker.

“Ek het ook gereël dat jy die as kan gaan haal, tot my kinders hier kan kom.” Ek steek my hand versigtig uit, asof virusse springbene het. Maar sy laat sak die pakkie vir die hoeveelste keer om eers nog iets te sê.

Later hoor ek nie meer die inhoud van die sinne nie. Al wat ek sien, is die moegheid en kommer agter die masker.

Eensaamheid is wreed.

“As hulle sê dis nie die virus nie, Tannie, het ons geen rede om te reken dit is dit nie,” probeer ek weer. Maar die sluier oor haar oë sluit toe. My opmerking help nie en sy gaan nie met my stry nie. “As die ergste dan gebeur, Tannie… Wat dink Tannie dan daarvan?”

Snaaks genoeg. Haar oë blink vir die eerste keer. Sy sien uit na iets.

“Dan aanvaar ek dit en is ek in die hande van my Here.”

Vir die eerste keer in ʼn lang ruk sê sy niks. Sy is tevrede. Sy gee die pakkie ʼn laaste veeg en haal dan nóg ʼn sak uit. Die hele kaboedel word in die volgende sak gesit. Asof die nuutste sak dan nou virusvry sal wees. Ek wil ʼn grappie maak en vra of sy nóg ʼn sak het, want hierdie een het mos nou ook dan die virus op. Gelukkig byt my tande vas.

Ek neem die sak tussen my wysvinger en duim en loop bêre dit in die motor se kattebak. My hande en polse word koud soos ek hulle spuit. Die nuutste sak maak ek behoorlik skoon met die blou saniteerder.

Net voor ek ry, roep ek daar na die hek se kant toe.

“Tannie, ons glo al hierdie reëlings is onnodig. En dat, een van die dae, ons Tannie terug verwelkom by die kerk.” Sy glimlag vir die eerste keer. “Ek mis my kerk so,” sug sy. Op pad huis toe, dink ek oor my eie lewe. En dat sonde soos ʼn virus is. Dat ek oor en oor self kan probeer skoonmaak. Maar dat my bevlekte hande net aanhou besmet. Al haal ek ʼn nuwe sak uit, al kry ek iets anders om dit mee te hanteer. Die besmetting hou aan. Uiteindelik kan jy dit net vir een Persoon aangee. Die Een wat ons menswees ontsmet en nuwe lewe in ons blaas, van buite af binnetoe.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: