Vrede vir julle
- Marietjie Joubert
- 4 hours ago
- 2 min read
Johannes 20:19-31
Corrie en Betsie ten Boom was twee toegewyde Nederlandse sussies, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog Jode in hulle huis weggesteek het. Hulle is deur die Nazi’s in Februarie 1944 gevange geneem en in September na die Ravensbrük-konsentrasiekamp gestuur, nadat hulle in die tronk was.
Hulle was geweldig bang om in die konsentrasiekamp hulle geloof te deel uit vrees dat hulle verder gemartel sou word. Betsie se Bybel is nooit gekonfiskeer nie en sy het stadig openlik begin getuig en Bybelstudie vir die mense saam met haar gehou. Hulle kon nie verstaan waarom die wagte nie hulle slaapsaal gereeld omkeer en besoek nie, totdat hulle toevallig gehoor het dat hulle te bang was om daar in te gaan as gevolg van die luise en vlooie in die saal.
Betsie het gereeld getuig dat hulle dankbaar in alle omstandighede moet wees, die Here moet prys en moet bid sonder ophou, selfs vir die luise! Corrie het haar in haar gebed onderbreek en gesê daar is geen manier wat selfs die Here haar sal oortuig dat sy moet dankbaar wees vir vlooie en luise nie. Corrie, gemotiveer deur haar suster Betsie, het mettertyd begin verstaan dat dankbaarheid in alle omstandighede, selfs vir luise en vlooie, hulle in staat gestel het om die Woord van die Here te bestudeer en te lees. Deur hulle vrees te oorkom, kon hulle, hulle geloof met hulle medegevangenis deel. Die vlooie en luise was hulle toegang tot die evangelie, al was dit ook hoe sleg.
Die eerste byeenkoms van gelowiges, na Jesus se dood, het bestaan uit ‘n bang groepie gelowiges. Hulle was so bang vir die Jode dat hulle die deure gesluit het waar hulle bymekaar gekom het. Terwyl hulle daar vergader het, het Jesus aan hulle verskyn. Hy het geweet hoe bang hulle was en hulle met die woorde “Vrede vir julle!” begroet. In hierdie gedeelte sê hy dit twee keer vir die groepie daar bymekaar. Jesus verstaan hulle vrees en maak hulle rustig met saligspreking.
Met ‘n tweede byeenkoms is Tomas daar. Jesus het hom nadergeroep en gevra om sy vinger in Sy wonde te steek. Jesus verwyt hom nie vir sy ongeloof nie. Dan sê Jesus ‘n derde keer: “Vrede vir julle!”
Ek weet nie waar jy op jou lewensreis is nie. Dalk is jy ook bang, soos Corrie, Betsie en die dissipels om die Woord te verkondig of mense daarvan te vertel. Miskien het jy net nie die woorde nie. Jy is dalk bang jy gaan veroordeel word. Onthou die Heilige Gees leef in jou en sal vir jou die geleentheid en die woorde gee. Op jou eie gaan jy dit nooit regkry nie, maar met die krag van die Heilige Gees is enige iets moontlik, selfs al is daar vlooie en luise in die kamer.




Comments