top of page

“'n Soet vriendskap verkwik die siel." (Spreuke 27:9)

  • Elmarie van der Westhuizen
  • 6 days ago
  • 2 min read

Die Amerikaanse pastoor en skrywer, Stuart Briscoe, vertel die verhaal van 'n vriend, wat as tiener dikwels 'n ou vrugteboom gebruik het om uit sy slaapkamervenster op die tweede verdieping te ontsnap, veral as sy pa hom wou straf. Eendag het die pa aangekondig dat hy die ou boom gaan afkap omdat dit jare lank nie vrugte gedra het nie. Daardie aand het die seun en sy vriende 'n klomp appels gekoop en in die donkerte vrugte aan die onproduktiewe takke vasgemaak. Die volgende oggend het die pa vir sy vrou geskree: "Mary, ek kan my oë nie glo nie. Die ou vrugteboom, wat jare lank onvrugbaar was, is oortrek met appels. Dis 'n wonderwerk, want dis 'n peerboom!"


Ons almal het sulke vriende in ons lewe nodig!


God belowe ons as sy kinders “goeie gawes” (Jakobus 1:17) en een van daardie geskenke is vriendskap, ‘n verhouding soos die bekende selfopofferende vriendskap van David en Jonathan.


Dis die vriende, wat jou die waarheid sal vertel, selfs al maak dit seer. Die vriende wat sal luister en nie oordeel nie. Die vriende vir wie jy lief is en wat jou terug sal liefhê, dit maak nie saak wat nie. Die vriende op wie tyd en afstand geen houvas het nie. Die vriende wat jou sterker en 'n beter mens sal maak. 


Ons is gemaak vir verhoudings, in huwelike en families, ons is ook gemaak vir vriendskap. Terwyl God besig was om alles te skep, het Hy gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” (Genesis 2:18)


Mense is op ‘n spesifieke tydstip met 'n spesifieke rede deur Hom in ons lewe geplaas. Soos Corrie ten Boom tereg sê: “Elke ervaring wat God vir ons gee, elke persoon wat Hy in ons lewens plaas, is die perfekte voorbereiding vir 'n toekoms wat net Hy kan sien.”


Enige vriendskap kan vertroos en bemoedig, maar dit neem ‘n Christen-vriend om jou aan te moedig om jou vertroue weer op God te plaas en op Sy goedheid te fokus. Om mekaar te herinner aan God se voorsiening en wysheid, is versterkend vir albei. 


God het 'n behoefte aan verhoudings in elkeen van ons geplaas – eerstens ‘n vriendskap met Homself en dan vriendskap met mekaar. Hy is vir ons ‘n voorbeeld van volmaakte selfopofferende vriendskap en Sy liefde die basis van alle verhoudinge. Johannes 15:13 sê: “Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe.”(ABA)



Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page