Padwysers vir 2021
- Stephan Joubert
- Jan 4, 2021
- 2 min read

Nuwejaarsbesluite is alweer in die lug. Goeie voornemens vir 2021 is egter nie genoeg nie. Die enigste keuses wat blywende verandering bring, is karakteraangedrewe keuses. Sulke keuses gaan daaroor dat ekself al hoe meer iemand na God se hart word. Daarom gaan ek my eie lewe in 2021 meer as ooit bou op die volgende pilare uit sy Woord:
Die Here is my Herder. Daarom gaan Hy in 2021 die Eregas en die Gasheer wees in elke gesprek en in elke verhouding waarbinne ek myself bevind.
Christus is die Here. Ek dra sy kruis. Daarom gaan ek in 2021 dit nogmaals dra omdat sy kruis my dra. Christus is my hele lewe.
Die grootste gebod van God is liefde. In 2021 gaan ek die Here dien sonder om gedurig iets terug te verwag. Ek gaan minder dinge van God in my gebede vra en Hom meer dank en loof. Ek gaan Hom deur my ganse lewe liefhê.
Alle mense het groot waarde voor God. Daarom gaan ek elkeen met wie ek in 2021 te doene kry, met respek behandel. Ek gaan mense by voorbaat eer. Ek gaan die beste van hulle glo. Ek gaan minder verwag van ander mense en meer in hulle lewe belê. Ek gaan minder teleurgesteld wees as mense dinge verkeerd kry of droogmaak en meer bly wees as hulle dit reg doen. Ek gaan probeer om elke dag iets goed vir mense in Jesus se Naam te doen.
God se Woord is die lig vir my lewenspad. In 2021 gaan ek vanuit die Bybel leef. Dit gaan nie net die Boek wees wat ek lees, as ek na oplossings of antwoorde soek nie. Ek gaan meer Bybelboeke van naderby leer ken. Ek gaan hulle my eie maak en daaruit leef.
Comments