top of page

Ons kan onsself nie elke slag “fix” of herstel nie

  • Stephan Joubert
  • Jul 28
  • 1 min read

Wanneer ons motor stukkend is, neem ons dit na ’n werktuigkundige toe vir herstelwerk. Dieselfde geld vir al die toebehore in ons huis. Maar wanneer onsself stukkend raak, steek ons dit soms goed weg. Ons dink ons kan onsself fix. Wel, ons kan nie aldag nie. Ons is te trots of te skaam om daaroor met iemand te praat. Dan verstaan ons nie hoekom ons angstig of terneergedruk is nie. Ons meen ’n vinnige wegbreek kan dit alles regmaak. Of ’n vakansie. Maar dit doen nie. Soms kruip moeilikhede dieper in ons lewe weg as wat ons dink. Dan moet ons met iemand praat. ’n Wyse vriend of vriendin, of ’n goeie terapeut is hier broodnodig. Of ’n simpatieke medikus of leraar. Die Here stuur sulke vriende én professionele mense oor ons pad om ons te ondersteun. 


Nie een van ons is van staal gemaak nie. Ons mag maar sê as ons innerlik swaarkry. Nee, ons móét, maar ons moet dit doen op die regte plekke en tussen die regte mense. Ons moet dit met die Here deel, maar ook met simpatieke mense. Dan kan ons ook saam met Paulus die volgende woorde bely en beleef ( 2 Korintiërs 4:8-9, NNT): “In alles wat ons doen beleef ons teenstand. Nogtans spat ons lewens nie uitmekaar nie. Ons ken nie al die antwoorde nie. Nogtans is ons nie totaal en al radeloos nie. Ons word vervolg. Nogtans word ons nie deur God in die steek gelaat nie.”

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page