top of page

Ons is “per missie”

  • Stephan Joubert
  • Aug 15
  • 1 min read

Teks: Matteus 28:20


Toe ek ’n paar jaar gelede na 'n Amerikaanse kerkleier sit en luister, besef ek opnuut hoe ek vir jare verkeerd gedink het. Daar in die harde wêreld van Detroit het hy sy gemeente geleer dat hulle gemeente “per mission” is. Hy het bedoel almal in hulle geloofsgemeenskap is voltyds op ’n sending vir die Here. Hulle is voltyds “per missie”. Die leraar het ook vertel hoe dit een van hulle kernwaardes is dat alle gemeentelede toestemming het om te doen wat die Here op hulle harte geplaas het om vir Hom te doen. Nee, dit was nie 'n "free for all" nie, maar dit was definitief ook nie daardie kommissie-aangedrewe roete wat immer gewild is in die kerk hier ter plaatse nie. By te veel gemeentes moet een of ander kommissie eers toestemming gee voordat iets kan gebeur. Almal moet eers vir maande lank wag vir fondse, omdat daar nooit begroot word vir onverwagse goeddoenaksies nie. Of omdat geloof ontbreek.


Wanneer ons besef die Here se verkeerslig het lankal groen geslaan en dat elke oponthoud in die kerk om die Here se werk te doen ons eie skuld is, is die regte soort beweging in plek. Dan raak ons vry genoeg om met min hulpmiddele en fondse die Here se koeriers en kelners te wees. Dan meld ons voltyds as Jesus se aardse stemme en as Sy hande en voete vir geloofsdiens aan. Geloof is ’n 24/7 “per missie” in Jesus se aardse soekgeselskap en in Sy diensspan.


Gebed:

Heer, vandag meld ek aan vir ’n sending in U Naam. Stuur my waar U goeddink. Gebruik my tot U eer.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page