top of page

Ons gee liefde aan ander deur te luister

  • Elmarie van der Westhuizen
  • Aug 20
  • 2 min read
“Just as our love for God begins with listening to God’s word, the beginning of love for other Christians is learning to listen to them. God’s love for us is shown by the fact that God not only gives us God’s word, but also lends us God’s ear.”  – Dietrich Bonhoeffer

Luister as ‘n konsep klink so eenvoudig – ons doen dit tog aldag en heeldag en die meeste van ons weet reeds wat goeie luistervaardighede is. Ek weet reeds om goed te kan luister beteken om nie met vrae te onderbreek (“Wat het hulle gesê?”) of advies nie, hulle storie met jou eie verhaal te kaap nie (“O ja! Dieselfde ding het met my gebeur”), misplaaste empatie (“Ek weet presies hoe jy voel”) nie. Of nie alreeds my antwoord te formuleer nie.


In haar boek “Kiku: The Japanese art of good listening” beskryf dr. Haru Yamada dat om beter te luister iets is wat ons almal kan doen om sterker verhoudings te bou. Sy verduidelik dat die word Kiku, wat luister in Japannees beteken, twee karakters het wat presies dieselfde uitgespreek word, maar wat verskillend geskryf word. Die eerste  manier van skryf is hoe ons normaalweg aan luister dink. Dis geskryf as ‘n hek met ‘n oor in die middel – ‘n persoon luister en verkry inligting. Die ander manier hoe hul luister skryf, is as ‘n groot oor aan die linkerkant en kleiner kakrakters aan die regterkant – ‘n 10, 4 en ‘n hart. As jy die 10 by die 4 tel kry jy 14  - 14 harte. Hierdie luister word uitgedruk as luister met 14 harte.


Om Jesus se liefde aan ander te bewys deur behoorlik na hulle te luister, het ek nodig om spreekwoordelik met 14 harte na hulle te luister. Ek het Sy liefdevolle hart nodig, ‘n hart wat luister met begrip, aanvaarding en deernis. Tegniek is belangrik, maar is nie veel werd as ek nie met ‘n hart vol liefde luister nie.  Dit is daarom goed om die Heilige Gees in te nooi by so ‘n geleentheid sodat Hy, op Sy unieke manier, my kan lei en my hart kan oopmaak.


Ek kan elke dag met hierdie gebed begin: “Here, U luister na my, wanneer ek by U kom kla oor my teleurstellings, wanneer ek vir U van my vreugdes kom vertel. Vervul my so met U Heilige Gees dat ek vandag met U hart vol liefde kan luister na die mense, wat oor my pad kom.” 


Slegs dan sal ek met 14 harte na my eggenoot, my kinders, my vriende, kennisse en enigeen, wat my pad kruis, kan luister. Dan kan ek hulle begelei deur hul ervaringe, verhale, hul vreugdes en hul seerkry. 


“The first duty of love is to listen.” – Paul Tillich

Comments


bottom of page