top of page

Om ’n naaste te wees gebeur onbepland

  • Stephan Joubert
  • 12 minutes ago
  • 2 min read

Teks: Lukas 10:34


Nabyheid beteken ook verantwoordelikheid. As ’n navolger van Jesus kan jy nooit anderpad kyk as mense rondom jou nood ly nie. Of as hulle leef soos wat hulle wil nie. Jy leef immers op die pad na Jerigo toe. Jy leef op daardie einste pad waarop die Samaritaan, van wie Jesus ons in Lukas 10 vertel en by wie ons ook in die vorige nadenke stilgestaan het, homself bevind. Hierdie gelykenis van Jesus maak dit duidelik dat ons nie altyd kan beplan wanneer en hoe graag ons ‘n naaste vir ander mense wil wees nie. Ons het nie die “luukse” om elke keer eers te kyk of dit inpas by ons eie program nie. 


Ons naastewees vir mekaar gebeur baie kere onverwags en onbepland. Al wat ons eintlik kan doen, is om elke dag in die liefde van die Here te leef. Dan sal ons weet dat ons nooit aan die anderkant van die pad kan of mag verbystap as mense oor ons pad gestuur word nie. Die Here se liefde sal maak dat ons die straat oorsteek na daardie plekke en situasies toe waar Hy ons graag wil ontplooi. Hy wil hê ons moet ons ook oor ander mense ontferm. Baie smag na Sy aanraking en na hulp, kos, omgee en redding. In daardie oomblikke wanneer sulke mense oor ons pad kom, moet ons die Here se noodhulpspan wees. Ons moet dan toelaat dat die Here ons gebruik om ’n naaste vir daardie mense aan die oorkant van die pad te word. 


Gebed: Here, help my om so te leef dat my dagboek onderbreekbaar sal wees. Maak my oë oop vir diegene, wat U oor my pad stuur.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page