top of page

Oefen jou geheue

  • Stephan Joubert
  • 1 day ago
  • 1 min read

Cicero en Quintilianus was twee beroemde Romeinse denkers. Albei van hulle was bekend met die ou Griekse digter, Simonides (556-468 vC). Beide het vertel hoe Simonides tydens ‘n openbare ete, wat aangebied is deur sy weldoener, Scopas, buitentoe gegaan het om met twee besoekers te gesels. Net toe Simonides uitstap, stort die gebou ineen. Almal daarbinne is onherkenbaar vermink. Simonides kon egter almal uitken op grond van sy visuele geheue oor al die gaste se sitplekke of “loci” aan die verskillende bankettafels. 


Simonides se manier van onthou het spoedig in die Romeinse wêreld gewild geword as ’n soort geheuepaleis. Tot vandag toe benut mense dit. Hiervolgens plaas jy al die items wat jy moet onthou op strategiese plekke in een of ander bekende gebou. Wanneer jy dit later wil herroep, reis jy net deur al daardie plekke in jou eie geheuepaleis. 


Ons almal onthou met behulp van ons innerlike sintuie. Dit is hoekom Paulus ons in Kolossense 3:1-2 oproep om ons gedagtes visueel in die rigting van God se hemelse paleis te verskuif sodat ons reg kan onthou en reg kan leef. Hoor net hoe hy dit beskryf: “Omdat julle saam met Christus opgestaan het uit die dood, moet julle lewe ingestel wees op die dinge daarbo waar Christus is. Daar is Hy op die heel belangrikste plek in die hemel. Daar sit Hy aan God se regterhand. Verskuif julle gedagtes se fokus na die dinge wat daarbo is. Moenie toelaat dat dit verstrengel raak met die dinge wat hier op die aarde is nie.”(NNT Vertaling). Beoefen dit en onthou beter.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page