top of page

Moenie asiel verleen aan kleingeloof en twyfel nie

  • Stephan Joubert
  • 12 hours ago
  • 2 min read

Teks: Filippense 4:6


“Dit gaan swaar, want my kwota geduld vir hierdie jaar was al verlede jaar opgebruik,” sê iemand oor koffie. “Jy is gelukkig dis net jou geduld. My hoop vir die jaar is lankal daarmee heen,” merk iemand anders op. Inderdaad is dit moeilik om met hoop te leef as die stormwinde amper nooit ophou waai nie. Moeilikheid wemel orals. Korrupsie en misdaad neem oor. Hoe gemaak? Moet ons moed opgee? Moet ons die spreekwoordelike handdoek ingooi? Nee, nooit nie! Moenie gratis verblyf aan hooploosheid en kleingeloof gee nie. Hiervan gepraat: ongeloof oorval jou ook nie net uit die bloute nie. Dit is nie asof jy een oggend opstaan en besluit vandag is ’n goeie dag om op te hou glo nie. Ongeloof bekruip jou stadig. Dit begin met twyfel wat nie betyds aangespreek word nie. Of met sondes wat ooglopend geduld word. 


Ja, ons almal twyfel soms. Ja, ons almal struikel partykeer oor verkeerde dinge. Maar ons mag nooit daarin bly lê nie. Ons mag nooit asiel verleen aan twyfel en verkeerde dinge nie. Wanneer ons enige tekens van sulke dinge in ons lewe bespeur, moet ons dit haastig en effektief aanspreek. Ons moet hiermee publiek gaan voor die Here. Hy sal ons nooit wegjaag as ons genade kom vra wanneer ons worstel om te glo nie. Of wanneer ons die pad byster geraak het nie. So nie, as ons nie sulke probleme getrou en gereeld voor God neersit nie, syfer ons geloof dalk ook op ’n dag weg in die dryfsand van ons eie lewe.


Gebed: Heer, ek leef net vanuit U hand. Dankie dat ek opnuut ’n porsie hoop en geloof en vergifnis uit U hand mag ontvang. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page