Kry ‘n gratis ete by my
- Stephan Joubert
- Apr 28
- 2 min read
Daar’s nie regtig iets soos ’n gratis ete, of “a free meal,” soos wat die Engelse dit noem nie. Die meeste van die tyd soek mense iets in ruil vir hulle goeie dade. Die ongeskrewe reël van die lewe is ‘n guns vir ’n guns. Of ‘n goeie daad vir ’n goeie daad. Moenie te verbaas wees hieroor nie. Dit was nog altyd so. In die antieke Grieks-Romeinse tyd was wederkerigheid (“reciprocity” in Engels) die algemene reël. Mense het gegee om iets terug te ontvang. Daar was geen formele plan in plek om armes en mense in nood by te staan nie. Armes kon niks aan hul weldoeners teruggee nie. Daarom was mense niks aan hulle verskuldig nie.
Die Bybel kies ’n ander roete. Om ’n arme te help, is om ’n lening aan die Here te maak. So leer Spreuke 19:17. God sal dit onthou. Hoor hoe stel Die Boodskap dit: “Wie goed is vir die arme, maak eintlik ’n lening aan die Here. Op Sy eie tyd en manier sal Hy hierdie goeie daad beloon.”
In Lukas 14:12-14 vertel Jesus vir ‘n gasheer dat as hy weer ’n luukse ete hou, moet hy nie sy vriende, broers, familie of welaf bure nooi nie. Hulle sal hom net weer terugnooi, volgens die spelreëls van wederkerigheid. Wanneer hy weer ’n feesete hou, moet hy eerder vier ander groepe nooi, naamlik armes, blindes, verlamdes en blindes. Hulle sal hom nooit kan terugnooi of terugbetaal nie. Maar God sal dit vir altyd onthou en hom op die laaste dag hieroor prys.
Om goed te doen aan diegene, wat dit nie kan terugdoen nie, is om dit aan God self te doen. God is die eintlike Ontvanger van elke weldaad, wat jy in Sy Naam bewys. Jy kan dus gratis etes hou. Jy kan gratis goed doen. Jy kan verniet weggee. Die Here sal dit as ’n lening aan Homself beskou. Hy sal jou goedheid vir altyd onthou.
Comentarios