top of page

Jesus-navolging is ‘n uitruiltransaksie

  • Roedolf Botha
  • Sep 23
  • 3 min read

Wanneer ons onsself aan Jesus vasmaak, maak ons onsself by implikasie los van ander goed. Indien ‘n mens die nuutste F1-fliek van uit geloof bekyk, is daar nogal waardevolle lesse in verband die uitruilaard van Jesus-navolging om daaruit te leer. Die fliek handel oor Sonny Hays, ‘n Formule 1-renjaer. In die fliek beland hy midde-in die Formule 1-wêreld, nadat hy jare gelede verloor het en vir ‘n paar jaar aan ander motorwedrenne deelgeneem het. Hays het beslis sy karakterfoute in die fliek, maar daar is een ding wat soos ‘n paal bo water staan: Hy heg geen waarde aan wêreldse ambisies, soos geld en populariteit, waaraan die ander renjaers waarde heg nie.


Heel aan die begin van die prent wen hy die gesogte Amerikaanse Daytona-wedren. Na die wedren was hy besig om sy sak te pak en afskeid te neem, toe sy bestuurder met die trofee na hom toe kom. Hays het nie eers die prysuitdeling van die wedren, wat hy gewen het, bygewoon nie. Toe sy vriend vir hom die trofee aanbied, reageer Hays net met die woorde:


“There’s no room in my bag.”

Trofees en die gejuig van die skares was net nie vir hom belangrik nie. Naby die einde van die fliek, wen hy die Formule 1-wedren ook. Toe die trofee vir hom op die podium aangebied word, wys hy dit van die hand en vra dat dit eerder vir sy spanleier gegee moet word.


Die fliek eindig waar Hays na sy F1-sukses iewers in Afrika beland, met die doel om aan ‘n Maja-wedren oor die sandduine van Afrika deel te neem. Hy bied homself aan as die drywer vir een van die spanne, waarop die spanbestuurder vir hom sê:


“We don’t pay much.”

Sonny antwoord eenvoudig:


“It’s not about the money.”

“What is it about?”

vra een van die spanlede vir hom.


Dan eindig die fliek. Want dis waaroor alles gaan.


“What is it about?”

Vir Sonny het dit oor sy eie persoonlike integriteit gegaan, niks anders nie. Hy het eenvoudig nie waarde geheg aan die dinge waaraan die res van die mense rondom hom waarde geheg het. Om ja te sê vir integriteit moes hy homself van sekere ander dinge losmaak. In die fliek is dit duidelik dat Sonny homself losgemaak het van ten minste vier aardse begeertes, naamlik:


  • die verwagtinge wat ander mense van hom het

  • veiligheid en gemak

  • wêreldse sukses

  • geld.


Vir hom was sy commitment tot integriteit ‘n uitruiltransaksie. Hy moes populariteit, die najaag van geld en sukses inruil sodat hy persoonlike integriteit kon bekom.

Dit leer ons baie van Jesus-navolging. In Filippense 3 leer Paulus ook dat om Jesus as die grootste skat te kon beleef, moes hy aardse dinge prys gee, soos sy Fariseërskap, wat vir hom in sy wêreld baie aansien bekom het. Hy moes afsien van sy eie etniese identiteit en status. Trouens, hy noem dit alles gemors in vergelyking met Jesus. Buiten dit beweer Paulus dat hy moes sterf vir sy eie begeertes en die dinge van die wêreld sodat hy voluit vir Jesus kon leef. Jesus sê dit ook in die bekende Matteus 16:26: “Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry, maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe?”


So baie gelowiges besef dit nie. Hulle wil Jesus hê sowel as al die ander gemaklikhede, rykdom en mag wat die wêreld bied. Dis natuurlik nie verkeerd om oor mag of rykdom te beskik nie, maar indien dit ons daaglikse lewenskeuses beheer, sal ons nooit Jesus ten volle beleef nie.


Wat sal jý dus gee in ruil vir ware Jesus-lewe?

Comments


bottom of page