Jesus, bron van al my vreugde!
- Liezel Lüneburg
- Mar 3
- 2 min read
Martin Janus het in 1661 'n aangrypende lied geskryf, wat aanvanklik op die wysie van Johann Schop se "Werde munter, mein Gemüte" gesing is. Later het Johann Sebastian Bach die musiek herskryf en sedertdien staan "Jesu, Joy of Man's Desiring" bekend as van die mooiste koraalmusiek, wat ooit gekomponeer is.
Sommige musici vertolk die musiek teen 'n vinniger, lewendiger tempo, maar ek hou veral van Lang Lang se stadiger vertolking van die weergawe, wat vir klavier aangepas is. Hy speel met tegniese presisie en virtuositeit, maar tog individualisties, charismaties en passievol.
Die eerste gedeelte van die musiek is beheersd en eenvoudig, gevolg deur statige, langer kwart- en halfnote. Van hier af raak die vertolking stelselmatig meer emosioneel en later, min of meer in die middel, verdiep die musiek tot vol, majestueuse klanke. Aan die einde word die eerste, eenvoudige agt mates herhaal om die lied op 'n plek af te sluit, waar die luisteraar weer kan "asem haal".
Lang Lang se vertolking is emosioneel en passievol en kruip tot in die diepste voue van my waardering vir musiek en alle ander Godgegewe, beeldskone dinge.
So is dit ook met my verhouding met God.
Soms moet ek eenvoudig, beheersd en gedissiplineerd met my geloof omgaan, nie net in tye van krisisse of verandering nie, maar ook as ek selftevrede voel. My fokus is geneig om te skuif wanneer ek deur krisisse en veranderinge gaan. As ek selftevrede is, kan ek maklik vergeet dat ek God in elke oomblik van my lewe bitterlik nodig het, ook in die goeie tye.
Soms ervaar ek tye van diepte, passie en uitbundigheid en verander my lewe in iets wat my laat jubel en juig.
Die stuk is in G-majeur geskryf, maar die musiek beweeg soms na E- en A-mineur. Die mineurgedeeltes is meer tragies en emosioneel. In Barok-filosofie was vreugde nie net blydskap nie, maar dit het ook beteken dat daar vreugde te vind is as iemand vrede in moeilike tye ervaar. Die oorspronklike lirieke lees immers: "Well for me that I have Jesus, O how tightly I hold him that he might refresh my heart, when I'm sick and sad. Jesus I have, who loves me and gives himself to me, ah, therefore I will not leave Jesus, even when my heart breaks."
Die lewe is soms passievol, emosioneel en ekstaties. Soms is dit eenvoudig en saai. Soms moet ek 'n harde, onherbergsame bult uitklim en ander tye moet ek deur 'n chaotiese oerwoud beur. Soms staan ek tevrede in die seebries en ander kere is ek verstom oor die mag van donderweer en stormwinde.
Maar een ding bly seker:"Well for me that I have Jesus ... "
(Nog musiek wat op dieselfde manier aan my hart raak en die moeite werd is om te luister, is Beethoven se welbekende "Moonlight Sonata" en ook Chopin se "Raindrop Prelude". Luister Evgeny Kissin se weergawes – hy is briljant!)




Comments