top of page

Hoe ryk is jy?

  • Marietjie Joubert
  • 14 hours ago
  • 2 min read

Lees Psalm 23.


Die haelstorms in Gauteng en die res van die land, wat in November plaasgevind het, het my diep getref. Ons het die oggend vroeg opgestaan en die verwoesting in die tuin gadegeslaan. My trane het vlak gelê! Ek was ontsteld oor die rafels, wat oorgebly het van die krismisrose, gebreekte takke, blare wat soos ‘n mat op die gras lê en en potplante wat ek nie kon herken nie. Met swaar harte het ons swart sakke gaan haal en begin hark en vee. Ek was sommer swaarmoedig.


Later die dag skakel my skoonseun en vertel van die aftreeoord in Montana, waar die hael so dik lê, dat die bejaardes nie eers kan uitkom nie. Nog ‘n vriendin vertel van hulle sakevennoot se huis, waar 20 vensters stukkend geslaan is. Daar was ook ‘n foutiewe elektriese heining en ingesakte plafonne as gevolg van die dak, wat nie die water se gewig kon hanteer nie.


Ek het baie skaam gekry! Ek lees toe sommer weer Ps. 23:1: “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.” Ja, my tuin is vir my mooi en ek geniet dit om daar te werk, MAAR die skade wat ek gehad het, is niks in vergelyking met die aftreeoord of my vriendin se vennoot nie. Toe kom die vraag by my op: “Hoe ryk is jy?” 


As jy die vraag vir ‘n ander persoon vra, sal dit dalk ongeskik voorkom, maar vra dit definitief vir jouself! Het jy meer as een stel klere? Koop julle dalk een keer per maand wegneemetes? Kon jy die jaar vir ‘n naweek of ‘n vakansie weggaan?  Het jy ‘n huishulp en ‘n tuinier? Is julle die enigste gesin wat in julle huis woon? 


As jy op meer as een van die vrae kan “Ja” antwoord is jy skatryk! Jy is bevoorreg! As jy nou die vraag moet beantwoord of jy ryk is, sal jou antwoord dalk verskil van jou eerste reaksie. Ons het regtig baie om voor dankbaar te wees. Jy het dalk ‘n bietjie minder as jou buurman, maar dit is nog steeds niks om oor te kla nie. Jy het klere om weg te gee, ‘n motor, jy is nie afhanklik van openbare vervoer of ‘n taxi nie. Hoe bevoorreg is jy nie! Jy is skatryk!


Plante wat in rafels stukkend geslaan is en blare wat die tuin met ‘n mat bedek, is regtig nie die einde van die wêreld nie. Dit kan alles weer groei en regkom of skoongemaak word. Kyk ‘n bietjie met nuwe oë na die lewe en jubel jou dankbaarheid oor jou rykdom teenoor die Here uit!


Die Here is ons HERDER en ons kom NIKS kort nie.

Dankie Here, dat U so goed is vir my!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page