top of page

Hier lê iemand wat groot potensiaal gehad het …

  • Stephan Joubert
  • 20 hours ago
  • 2 min read

Teks: 1 Petrus 4:11


“Happiness is about living the story you also want to read about.” Toe ek dit op X (Twitter) kwytraak, wonder ek of ek met myself saamstem! Maar toe dink ek dat ek op so ’n manier probeer leef dat my lewe betekenis het. Niemand van ons wil tog ’n nuttelose lewe leef nie. Ons wil nie hê mense moet na ons dood op ons grafstene iets skryf soos “Hier lê iemand wat lewenslank groot potensiaal gehad het" nie. 


Potensiaal help jou niks as jy die dag dood is nie. Dit moet omskep word in die regte woorde, die regte dade en die regte leefwyse. Boonop moet dit so gou as moontlik gebeur. Jy kan nie jou lewe deurbring met ’n klomp onontginde potensiaal op jou naam nie. Hoe aktiveer jy dit? Dit begin wanneer jy weet wat daardie een of twee talente is wat God spesifiek aan jou gegee het én jy dit ook reg gebruik. 1 Korintiërs 12, Romeine 12, Efesiërs 4 en 1 Petrus 4 leer ons dat nie een van God se kinders hiermee oorgeslaan is nie. Jy ook nie. Gebruik jou gawes volgens die gebruiksinstruksies, wat hier aangegee word. As jy byvoorbeeld die gawe ontvang het om leiding te neem, doen dit tot God se eer. As dit jou gawe is om te preek, te skryf, ander op te bou, administrasie te doen, kunstig te wees; tegnies vaardig te wees, ensovoorts, doen dit ook om mense in hulle geloof op te bou! Leef jou potensiaal daagliks uit vir God en tot voordeel van ander.


Gebed: Here, ek wil nie ’n vermorste lewe leef nie. Maak my lewe sinvol tot U eer en tot voordeel van ander.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page