top of page

God onderhandel nie

  • Stephan Joubert
  • 11 minutes ago
  • 1 min read

Op 2 Julie 1505 was Martin Luther onderweg na die Duitse stad, Erfurt. Toe beland hy in ’n groot donderstorm. Weerligstrale het naby hom geslaan. Hy het vir sy lewe gevrees. Toe maak Luther ’n gelofte dat as God sy lewe spaar, sal hy ’n monnik word. 


Sulke onderhandelings met God is so oud soos die spreekwoordelike berge. “As U dit of dat vir my doen, sal ek die volgende terugdoen …” Kom ons wees eerlik: die meeste van ons het dit ook al gedoen. Toe ons in die moeilikheid was, was ons bereid om enigiets te beloof aan God in ruil vir Sy hemelse hulp. 


Is God oop vir sulke onderhandelings? Nee, want Hy weet ons het niks in ons hand waarmee ons met Hom kan onderhandel nie. Dit is juis die fout wat daardie Fariseër in Jesus se gelykenis in Lukas 18:9-14 gemaak het. Hy het gedink hy kan God beïndruk met al sy voortreflike godsdienstige dade. Hy het gedink hy het ’n goeie teenprestasie gelewer waarvoor God hom moes beloon. Maar hy was verkeerd, want God het niks in ruil van hom nodig gehad nie. 


God is nie in die onderhandelingsbedryf nie. Ons onderhandel onsself nooit in Sy hart in nie. Ons leef onsself nooit goed genoeg om vir Hom aanvaarbaar te wees nie. Die Here se goedheid is onvoorwaardelik. Hy het ons eerste en altyd lief. Sy gratis genade begin juis by sondaars, stukkendes, vyande en almal wat niks hiervan verdien nie. So leer die Bybel ons. Die Here help ons verniet en uit genade. Hy verhoor ons gebede graag vanuit die goedheid van Sy hart.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page