top of page

God is nie net ’n hemelse nooddiens nie

  • Stephan Joubert
  • Nov 10
  • 1 min read

Hoekom dink baie mense dit is God se belangrikste werk om hulle deur storms te kry? Hoekom verstaan sommige gelowiges die lewe hoofsaaklik in terme van aanslae en moeilikhede wat God gedurig (of aanhoudend?) vir hulle moet uitsorteer? Sosiale mediaplasings, preke, gesprekke en boeke wemel deesdae van storms wat God namens ons moet aandurf, reuse wat Hy vir ons moet verslaan, en moeilikhede wat Hy van vroeg tot laat moet oplos. Dit voel kompleet asof dit God se enigste werk geword het om ons almal se moeilikhede uit te sorteer. Hy is vele se voltydse Probleemoplosser, eerder as die Here wat voltyds aanbid en verheerlik moet word.


Voordat jy verkeerd hoor: God is ons helper. Natuurlik! Maar Hy is eerlikwaar nie net ’n hemelse nooddiens nie. Die lewe is ook nie net een groot krisis nie. Ons is nie gedurig onder aanslag nie. Moeilikheid en swaarkry is nie die somtotaal van ons lewe nie. 


Die Bybel leer dat ons identiteit in Christus gesetel is. Hy is ons lewe. Hy is ons anker. Ons oog is op Hom gevestig, nie op al ons probleme nie. Christus definieer ons lewe, nie ons omstandighede of moeilikhede nie. Vanuit Christus en in Christus leef ons. Ons aanbid Hom. Ons dien Hom. Ons vind ons hoop, ons troos en ons bystand in Hom. Wanneer nodig, smeek ons Hom om hulp en uitkoms, maar altyd leef ons vanuit lof en dank aan die Here.  Dan leef ons reg.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page