Genade in 'n geskeurde sak
- Siegfried Louw
- Aug 5
- 3 min read
ʼn Studentevriend vertel my hoe hy onlangs besig was om aanlyn te werk. Dit was een van dáárdie dae: Jy voel so produktief dat jy byna te laat ontdek dat jy honger is. Sy oplossing? Bestel gou kos deur Uber Eats sodat jy gefokus kan voortwerk. Buite het die Kaapse winter vir ongure wind en stortreën gesorg. Dit was dus ʼn verdere bonus om nie die huis te verlaat nie en aan die ontvangkant te wees van ʼn kardoes met warm kos wat vir jou gebring word.
Hy het eers later besef dat hy langer wag as gewoonlik. Wat sou die fout wees? Het hulle dan nou sy bestelling verkeerd gehad of dit elektronies verlê? Uiteindelik het hy die bromponie gehoor, sy mus opgesit en die deur oopgepluk. Voor die hek het daar ʼn verinneweerde man gestaan, druipnat en redelik angstig.
“Sir, I’ve got your food. I am so sorry that I took so long.”
My vriend het die kos ontvang, maar die man kon nie ophou verskoning maak nie. Die afleweraar het blykbaar in die rukwinde vir ʼn oomblik na sy foon gekyk om te sien hoe hy moes ry. In die pad was daar ʼn slaggat. ʼn Harde pluk van die wind het veroorsaak dat hy dwarsdeur die gat is en beheer oor sy motorfietsie verloor het.
Dis tóé wat my vriend sy stukkende reënbaadjie oplet, asook die geskeurde broekspyp. Die man was sopnat. Sy motorfiets se truspieëltjie is morsaf gebreek en daar was enkele ander geskraapte plekke.
“Can I get you something? How can I help?” wou my vriend weet. Dit was asof die man hom nie eers gehoor het nie. Hy het belangriker dinge gehad om te sê: “Sir, I just want to apologise for the food. It will not be neatly packed now, because of the fall. And the cooldrink has also been shaken. I am really sorry.” Die sak met die kos was ook geskeur. Die man was nie so besorgd oor homself nie - hy wou net seker maak dat my vriend hom nie ʼn slegte evaluasie sou gee oor sy aflewering nie.
“No, it’s okay, don’t worry. Can I give you something? Do you need a Bandaid for your leg?”
Die afleweraar het net dankbaar sy kop geskud. “I just want to go home now.” Met dié het hy op sy flenterpoegie geklim en bewerig gemik om die stormwinde aan te durf huis toe. My vriend is die huis in, warm en snoesig onder sy kombers. Met ʼn warm middagete op sy tafel kon hy verder werk. Die luuksheid van ʼn vinnige warm ete wat vir jou gebring word, teenoor ʼn man wat letterlik die winde trotseer en besorgd is om dalk sy werk te verloor wanneer hy hard op die teer val, staan intens uit.
Miskien gebeur genade daagliks met ons, sonder dat ons altyd gereed is om dit te sien. In hierdie geval was dit genade in ʼn geskeurde sak. Daar was nie veel van die verpakking oor nie. En tog was die kos warm, en die mens daaragter nog lewend. Miskien lê genade nie in hoe netjies iets lyk nie, maar daarin dat dit nog steeds by jou uitkom.
En die afleweraar? Hy het nie vir hulp gevra nie. Hy wou net huis toe gaan. Soms is dit die grootste gebed van almal - nie gevra nie, nie hardop gesê nie, maar wel gehoor deur húlle wat oplet.




Comments