Volharding in gebed
- Elmarie van der Westhuizen
- 17 hours ago
- 2 min read
“Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor!” (DB) 1 Tessalonissense 5:17
Die evangelis George Müller was bekend vir sy gebedslewe. Hy was gedissiplineerd in sy volharding in gebed. Hy het geskryf: “I live in the spirit of prayer. I pray as I walk about, when I lie down and when I rise up. And the answers are always coming. Thousands and tens of thousands of times have my prayers been answered. When once I am persuaded that a thing is right and for the glory of God, I go on praying for it until the answer comes. George Müller never gives up!”
Sommige van sy gebede is onmiddellik verhoor, ander het jare geneem. Müller het gereeld gebid vir die redding van vyf vriende - een het na 5 jaar tot bekering gekom, 'n ander na 10, 'n ander na 25, en die laaste twee eers na Müller se dood. Hy het geleer om God nie net vir antwoorde te vertrou nie, maar ook vir tydsberekening.
Bill Bright, stigter van Campus Crusade for Christ, het daagliks gebid vir herlewing en geestelike ontwaking. Hy het gevas, gebid en volhard te midde van ontmoediging, finansiële druk en teenstand. Uit daardie gebede het bewegings soos die Jesus-film gekom, wat miljoene wêreldwyd bereik. Bright het dikwels gesê dat gebed nie net sy omstandighede verander nie – dit het ook sy hart verander.
In Lukas 18:1 moedig Jesus ons aan om “altyd te bid en nie moed op te gee nie.” “Hy luister na almal, wat dag en nag tot Hom bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid.” (Vers 8 DB) Jesus sê by implikasie dat dit swaar gaan wees en dat dit makliker sou wees om tou op te gooi en op te hou bid.
Alle gelowiges loop dieselfde pad met gebede, wat soms nie beantwoord word nie – ‘n ouer wat bid vir 'n kind wat afgedwaal het, gelowiges met sukkelende finansies of chronies gesondheidsprobleme. Ons word moedeloos as ons gebede nie beantwoord word nie. Ons bid vir ‘n ruk en as ons geen verandering in ons omstandighede sien nie, kom ons tot die slotsom dat dit nutteloos is om te bid.
Dit is in die proses van bid en wag waar ons gesnoei word. Waar ons leer om stil op ons liefdevolle Vader te vertrou en te glo dat Hy in beheer is van ons omstandighede en situasie. Daar leer ons dat elke gebed vir God kosbaar is en dat ons gebede krag het, al sien ons nie die uitwerking dadelik nie.
Die lewe van George Müller en ander gebedstryders moedig my aan om in gebed te volhard. Om nie moed op te gee as my gebede nie dadelik verhoor word nie. Om steeds op die Here en Sy liefdevolle voorsiening te vertrou.




Comments