top of page

Geloof werk nie soos vernis nie

  • Stephan Joubert
  • 4 days ago
  • 2 min read

Teks: Titus 2:12


Vernis dien as ’n noodsaaklike beskermende boonste laag vir hout. Dit beskerm hout teen al die elemente. Daarom smeer ons dit graag aan ons huise se vensterrame en deure. Maar die dilemma met vernis is dat dit papierdun is. Dit werk, maar dit werk net vir ’n beperkte tyd. Binne ’n seisoen of twee vergaan hierdie vernisbolaag bo-oor hout. Vernis dring net nooit diep genoeg in om hout permanent te beskerm nie. Helaas gebeur dieselfde met baie van ons se geloof. Dit is maar net soos ’n dun vernislagie in ons lewe. Dit dring nooit diep genoeg in ons lewe in om ons hart en gedagtes blywend te verander nie. 


Oppervlakkige geloof wat net ons uiterlike vroomheid opkikker, maar wat nie ons siel verander nie, help nie te veel nie. Die feit bly staan, dat egte geloof nie soos vernis is nie. Egte geloof, wat deur die Here in ons aangewakker word, is ’n karakter-veranderende verhouding met Homself as die lewende God. Egte geloof verander ons tydsbestuur, ons geldspandering, ons taalgebruik, ons vryetydsbenutting, en nog baie meer. Geloof spreek ons harte se versteekte vrees en kommer aan. Dit verlig ons geheime oortredings en al die duister kante van ons lewe. Geloof in Christus verskuif ons prioriteite in Sy rigting, asook in die rigting van ander mense. Geloof verander ons om God se heerlikheid by die dag al hoe meer te weerkaats. Dit  veroorsaak dat ons gedurig bid: “Nie my wil nie, maar U wil moet geskied, o Heer!”


Gebed: Heilige God, ek stel my lewe oop vir U. Laat my geloof nie maar net vernisdiep wees nie. Laat dit my hart en verstand ook tref.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page