top of page

Gebed is om altyd mooi met God oor God te praat

  • Stephan Joubert
  • Oct 27, 2025
  • 2 min read

Ons bid nie net omdat dit die regte godsdienstige ding is om te doen nie. Ons bid omdat ons daarna smag om met God te praat. Ons bid om mooi met Hom te praat en om mooi van Hom te praat - verheerlikend, lofwaardig, opbouend! Ons bid omdat God ons hart se diepste verlange is. Ons bid omdat Hy ons Here, ons Verlosser, ons Redder, ons Hoop, ons Ewige Rots, ons Veilige Vesting en ons Lewe in Oorvloed is. Ons bid omdat Christus ons verlos het en omdat die Gees ons hart aan die brand gesteek het. Ons bid omdat ons ons diepste behoeftes deur gebed en smeking voor die Here se troon van genade wil uitstort. Ons bid omdat die Gees ons gedurig dring en Godwaarts trek. Ons bid omdat die laste van ander mense so swaar op ons skouers rus dat ons nie anders kan as om dit hemelwaarts te dra en voor God se voete neer te sit nie. 


Ons leer aanhoudend hoe om te bid. Ons oefen dit lewenslank in. Nooit gradueer ons uit Jesus se skool van gebed nie. Nooit verdien ons enige vorm van erekleure in gebed nie. Nooit is ons gebedskampioene, of wat ookal nie. Ons leer oor en oor saam met Jesus se dissipels in Lukas 11 dat gebed heel eerste oor God gaan. Dit gaan oor Sy eer, Sy wil, Sy koninkryk. Tweedens leer ons oor en oor gebed gaan oor ander mense. Ons eie behoeftes en versoeke kry altyd die laaste plek in die ry wanneer ons bid … altyd! Ons bid onsself gedurig uit alle belangrikheid uit. God word meer en ons word minder in ons gebede. As dit nie die geval is nie,  gaan ons altyd gefrustreerde bidders wees.

1 Comment


WillemJPretorius
Oct 31, 2025

Ek is bietjie verward nou. Psalm 56, 64 en 88 is voorbeelde van gebede van iemand wat verlate gevoel het en daaroor by God kla. So ook Ps 103:1-12, Ps 142, 143, Hierdie gebede voldoen nie aan die vereistes of kwaliteite wat in die titel en beskrywing hierbo genoem word nie (Gebed is om altyd mooi met God oor God te praat). Is dit dan nie goeie gebede nie, en/of mag ons dan eintlik nie so bid nie? Wat dan van "stort julle hart voor Hom uit! (Ps 62:9)?

Willem.

Like
bottom of page